Nuus 06:00
BULLETIN 5 Desember 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê geslagsgeweld is nie ‘n vroueprobleem nie
# Jacob Zuma verloor sy appèl teen die terugbetaling van regskoste
# En Microsoft word beskuldig dat hy data namens die Israelse Weermag verwerk
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika het mans nodig wat respek vir vroue het, wat medelydend, verantwoordbaar en sterk van karakter, nie met hul vuiste, is nie. Hy het gister die geleentheidsrede gelewer by die Vrystaatse Provinsiale Mansindaba wat by Limo Green Park in Bloemfontein gehou is. Suid-Afrika vier tans 16 Dae van Aktivisme teen Geslagsgeweld. Ramaphosa sê geslagsgeweld word deur mans gepleeg, en is misdaad wat in die naam van kultuur pleeg word om hul manlikheid te bewys:
# Oudpresident Jacob Zuma het sy verlof tot appèl verloor teen ‘n bevel van die Hooggeregshof wat hom verplig om die 28,9-miljoen-rand terug te betaal vir die regskoste in sy wapentransaksie-saak. Hy het om verlof tot appèl aansoek gedoen nadat die Hooggeregshof in Pretoria in Oktober beslis het hy moet sy eie privaat regskoste dra. In sy uitspraak het regter Anthony Millar gesê howe kan nie onbepaald oopbly vir ‘n litigant wat weier om ‘n uitspraak te aanvaar nie.
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu sê bewerings van menseregteskendings is teen die taakspan vir politieke moorde gemaak. Mchunu het voor die Madlanga-kommissie in Pretoria getuig hy het die eenheid ontbind omdat dit onwettig opgetree het. Hy het bygevoeg die burgerlike samelewing, verklikkers en parlementslede het in die laaste deel van verlede jaar klagtes en verslae oor die span ingedien:
# Die Gautengse Onderwysdepartement het aangekondig dat laat aansoeke vir grade een en agt op 17 Desember vir die 2026-skooljaar sal open. Ouers sal aanlyn kan aansoek doen en word versoek om die korrekte dokumente in te dien om vertragings te vermy. Gedurende ‘n media-inligtingsessie het die LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, gesê die Departement sal voortgaan om te werk om die oorblywende leerders uit die aanvanklike aansoekrondte te plaas terwyl hulle voorberei vir die laat inname:
# Die Ierse Raad vir Burgerlike Vryhede het die Databeskermingskommissie formeel versoek om Microsoft te ondersoek oor beweerde onwettige dataverwerking deur die Israelse Weermag. Die menseregtegroep beweer dat Microsoft onwettig persoonlike data wat aan Palestyne en burgers van die Europese Unie behoort, verwerk het, wat teikenstelling en besetting deur die Israelse weermag moontlik gemaak het. Die uitvoerende direkteur van die raad, Joe O’Brien, sê die verwerking van die data het oorlogsmisdade, misdade teen die mensdom en volksmoord in Gaza vergemaklik.
# Rugby: Die Springbok-stut Ntuthuko Mchunu maak vanaand sy debuut vir die Stormers in die openingswedstryd van die Kampioenebeker teen die Franse span Bayonne. Die afskop in die Stade Jean Dauger is om 10nm, Suid-Afrikaanse tyd. Mchunu druk in die voorry saam met Neethling Fouché en JJ Kotzé, met kaptein Salmaan Moerat wat sy 50ste wedstryd vir die span speel. John Dobson, die direkteur van rugby, sê hulle verstaan hoe groot die uitdaging is en is gereed om vir 80 minute hoë-intensiteit rugby te speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-76-sent teen die euro en 22-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-157-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-205-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….