Nuus 17:00
BULLETIN 2 Desember 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Motoriste kan nog ‘n brandstofprysverhoging verwag
# Imogen Mashazi bevestig EMPD-adjunkhoof Mkhwanazi se aanstelling was onreëlmatig
# En, Standard Bank sê die BBP-groei van 0,5-persent voldoen aan die verwagtinge in ‘n moeilike jaar
# Nog ‘n brandstofprysverhoging wag môre op motoriste. Die prys van 93- en 95-oktaan petrol sal om middernag met 29-sent per liter styg, die dieselprys met 82-sent en lampolie met 74-sent, terwyl gaspryse met tot 24-sent per kilogram sal styg. Die Departement van Minerale en Petroleumbronne se woordvoerder, Robert Maake, sê die verhogings word aangevuur deur internasionale petroleumpryse en die wisselkoers van die rand teenoor die Amerikaanse dollar:
# Die voormalige Stadsbestuurder van Ekurhuleni, Imogen Mashazi, het aan die Madlanga-kommissie gesê die geskorste EMPD-adjunkhoof Julius Mkhwanazi se aanstelling was onreëlmatig. Sy sê die onderhoudspaneel het nooit weer byeengekom om kandidate te oorweeg met behulp van onderhouds-uitslae en assesserings oor bevoegdheid nie. Mashazi erken sy het geen rekords van die proses nie. Sy waarsku indien die assesserings onvolledig was en die paneel nie weer byeengekom het nie, kan die aanstelling volgens wet ongeldig wees:
# Standard Bank sê die groei van 0,5-persent in Suid-Afrika se bruto-binnelandse produk in die derde kwartaal is in ooreenstemming met verwagtinge. Die meeste sektore het uitgebrei, behalwe elektrisiteit, terwyl huishoudelike besteding bestendig gebly het. Elna Moolman van die bank sê die ekonomie presteer soos verwag is ondanks ‘n uitdagende jaar. Sy verwag sterker groei in die mediumtermyn:
# Kanada gaan by die Europese Unie se Security Action for Europe, of SAFE-veldtog aansluit. Die eerste minister Mark Carney se kantoor sê die land se deelname aan SAFE sal Kanadese verdedigingsondernemings wye toegang tot die Europese mark bied en Europese verdedigingsbeleggings na Kanada lok. Die herbewapeningsfonds van byna drie-duisend-miljard-rand is vroeër vanjaar aangekondig. Dit is deel van ‘n groot poging om die EU gereed te kry om homself teen 2030 te verdedig te midde van vrese oor ‘n Russiese aanval en twyfel oor Amerikaanse beskerming.
# Rugby: Die naweek se verbeterde wêreldreeks-sewestoernooi in Kaapstad behels die Springbokke en sewe ander mans- en agt vrouespanne. Die Blitsbokke is die verdedigende kampioen. SA Rugby het bevestig dat die Moederstad se grootste rugby-partytjie afskop met spesiale aanbiedings vir toeskouers, met die eerste 500 wat partytjie-kaartjies teen 350-rand koop wat ‘n gratis drankie kry. Pakkette vir ‘n gesin van vier kos 750-rand, en daardie kaartjies word van Vrydagoggend verkoop. SA Rugby beloof ‘n toernooi met woema.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 22-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-167-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-211-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….