Nuus 16:00
BULLETIN 2 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Twee polisiebeamptes uit die apartheidsera is skuldig bevind aan die Nyoka-moord in 1987
# Brandstofpryse styg skerp om middernag
# En DSTV kan volgende maand 12 kanale van Warner Brothers Discovery verloor
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het die voormalige apartheidsera-polisielede, Pieter Stander en Abram Engelbrecht, skuldig bevind aan die moord op die studente-aktivis Caiphus Nyoka in Daveyton, Gauteng, in 1987. ‘n Medebeskuldigde, Leon van den Berg, is vrygespreek nadat daar nie voldoende bewyse was teen hom nie. Regter Mohomed Ismail het beslis Engelbrecht het die moord gelas en Stander het dit uitgevoer saam met Johan Marais, wat tot 15-jaar gevonnis is nadat hy skuldig gepleit het aan moord. Die beamptes het aangevoer hulle het Nyoka uit selfverdediging geskiet.
# Die sekerheidstrateeg Andy Mashaile het die voormalige stadsbestuurder van Ekurhuleni, Imogen Mashazi, se getuienis voor die Madlanga-kommissie gekritiseer en haar gedrag as roekeloos en onbevoeg beskryf. Mashaile het in ‘n onderhoud met SABC News beweer sy het op etiese en wettige gronde misluk. Hy sê Mashazi se onvermoë om bewyse te lewer of sleutelbesonderhede te onthou, verswak haar bewerings en lê dieper kommer oor leierskap, aanspreeklikheid en beweerde verrotting binne Ekurhuleni en die Metro-polisiedepartement bloot:
# Nog ‘n brandstofprysverhoging wag môre op motoriste. Die prys van 93- en 95-oktaan petrol sal om middernag met 29-sent per liter styg, die dieselprys met 82-sent en lampolie met 74-sent, terwyl gaspryse met tot 24-sent per kilogram sal styg. Die Departement van Minerale en Petroleumbronne se woordvoerder, Robert Maake, sê die verhogings word aangevuur deur internasionale petroleumpryse en die wisselkoers van die rand teenoor die Amerikaanse dollar:
# DStv-intekenare kan van volgende maand 12 van Warner Brothers Discovery se kanale verloor. Dit sluit in CNN International, Cartoon Network, TLC, en Food Network. Multichoice sê sy ooreenkoms met Warner Brothers Discovery verstryk die einde van die maand en ‘n nuwe ooreenkoms is nog nie bereik nie. News24 berig al ses DStv-pakkette, insluitend EasyView en Premium, kan geraak word. Multichoice gaan alternatiewe inhoud aanbied terwyl die moedermaatskappy, Canal-plus Africa, die afgelope jaar ‘n verlies van 1,2-miljoen intekenare aangemeld het.
# Rugby: Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het inwoners aangespoor om die Kaapstadse Sewes-toernooi ‘n onvergeetlike naweek te maak. Die 16 topspanne, insluitend die verdedigende kampioen, Suid-Afrika, Fidji, Argentinië, Australië en Nieu-Seeland, sal op die Kaapstadse stadion meeding. Hill-Lewis het die geleentheid geprys oor sy wêreldklas-rugby, lewendige atmosfeer en gesinsvriendelike pret, sowel as die verwagte ekonomiese hupstoot as gevolg van internasionale en plaaslike toerisme. Ondersteuners word aangemoedig om in hul beste sewes-uitrustings aan te sluit by die viering.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-428-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-206-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….