Nuus 9:00
BULLETIN 30 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die COGTA-hoof sê ‘n daadwerklike stryd om oorlewing is die rede vir minder kiesers
# Die minister van Justisie ontvang die verslag wat die KZN Direkteur van Openbare Vervolging vryspreek
# En, die Blitsbokke se hoop om die Dubai-sewes te wen, lê aan skerwe
# Die voorsitter van die parlement se Portefeuljekomitee oor Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Zweli Mkhize, sê Suid-Afrika se dalende aantal kiesers by die stembus is as gevolg van landsburgers se lewenservarings. Mkize het tydens ‘n gesamentlike sitting van die COGTA- en Binnelandse Sake-komitees gesê frustrasies oor swak dienslewering, werkloosheid, korrupsie en die stygende lewenskoste bepaal of mense gaan stem. Dit volg na ‘n waarskuwing deur die Verkiesingskommissie oor ‘n afname in deelname voor die 2026-plaaslike verkiesing.
# Die ministerie van Justisie sê die KwaZulu-Natalse Direkteur van Openbare Vervolging, Elaine Harrison, is vrygespreek van bewerings dat sy deur ‘n privaat sakeman gekaap is. Woordvoerder Terrence Manase, sê die minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi, het die Kantoor vir Etiek en Verantwoordbaarheid se verslag ontvang, wat geen bewyse van wangedrag gevind het nie. Sekuriteitsrekords, selfoondata en personeelverklarings het bevestig dat geen onbehoorlike kontak plaasgevind het nie:
# Die MK-party doen ‘n beroep op dringende veiligheidsmaatreëls vir lede van die Parlement se ad hoc-komitee nadat Vusi Shongwe hierdie week in Tembisa, oos van Johannesburg, gekaap en ontvoer is. Aanvallers het na bewering telefone gesteel en hom gedreig en gedwing om geld te onttrek voordat hulle hom ongedeerd vrygelaat het. In ‘n onderhoud met Newzroom Afrika sê die partywoordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, onmiddellike beskerming en vinnige ondersoeke is deurslaggewend:
# Oekraïnse vloot-hommeltuie het twee olietenkskepe van Rusland se sogenaamde skaduvloot in die Swart See getref. Die vloot bestaan uit honderde verouderde tenkskepe, baie met twyfelagtige eienaarskap of versekering. Die skepe word deur Rusland gebruik om Westerse sanksies te omseil wat na die inval in Oekraïne in 2022 ingestel is. Die twee tenkskepe vaar albei onder die Gambiëse vlag en is oor die naweek langs die Turkse kus getref. Die aanvalle is ‘n skynbare poging deur Kiëf om Rusland se noodsaaklike inkomste uit olie, wat gebruik word vir die befondsing van die oorlog in Oekraïne, te ontwrig.
# Rugby: Die Springbok-sewesrugbyspan het ‘n hartverskeurende nederlaag teen Argentinië gely, wat ‘n einde gebring het aan hulle kanse in Dubai. In hul eerste wedstryd van die dag het die Blitsbokke die Olimpiese Kampioen, Frankryk met 15-12 geklop, maar teen Fidji en Argentinië in hul volgende wedstryde vasgeval. Alhoewel hulle met dieselfde aantal punte as Argentinië geëindig het, het Frankryk se massiewe oorwinning van 59-17 oor Argentinië en hul oorwinning van 24-19 oor Fidji beteken dat hulle en die Suidsee-eilandspan kwalifiseer. Suid-Afrika sal vanoggend net voor 10:00 teen Groot-Brittanje in die halfeindstryd om die vyfde plek speel.
# En motorsport: Oscar Piastri het Saterdag sy aanslag op ‘n eerste wêreldkampioenskapstitel verskerp. Hy het die snelren in Katar gewen en daarmee sy McLaren-spanmaat Lando Norris se voorsprong tot 22 punte verminder. Die 24-jarige Australiër het eerste weggespring en ‘n vertoning gelewer gelykstaande aan sy oorheersing aan die begin van die seisoen. Hy het byna vyf sekondes voor George Russell van Mercedes geëindig, met Norris 1,3-sekondes later in die derde plek. Die viermalige wêreldkampioen Max Verstappen was vierde vir Red Bull, voor sy spanmaat Yuki Tsunoda en die tiener-nuweling Kimi Antonelli in die tweede Mercedes.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….