Nuus 8:00
BULLETIN 30 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Mmusi Maimane vra Suid-Afrika om te verenig vir verandering
# AfriForum dien ‘n verslag oor minderheidsregte by die VN Forum vir Minderheidsake in
# En, die Springbokke verneder Wallis in Cardiff met hul ergste nederlaag ooit
# Die leier van Build One South Africa, Mmusi Maimane, sê die land het nie veelvuldige politieke partye nodig nie, maar kollektiewe optrede om nasionale uitdagings op te los. Maimane het in Soweto, tydens die Unite for Change-veldtog, bestaande uit BOSA, die GOOD Party en RISE Mzansi, ‘n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om saam te werk om kwessies soos swak dienslewering, honger en korrupsie aan te pak. Hy beklemtoon dat eenheid gaan oor betekenisvolle verandering:
# Die hoof van Openbare Betrekkinge van AfriForum, Ernst van Zyl, het bevindinge van die World Must Know-verslag by die Verenigde Nasies se 18de Forum oor Minderheidsake ingedien. Die verslag is ook aan die VN se spesiale rapporteur, Nicolas Levrat, oorhandig. Van Zyl het verwys na kommer oor kwessies wat minderhede raak, insluitend haatspraak, plaasaanvalle en die Onteieningswet. Hy het beklemtoon dat die VN se kommentaar oor regerings wat minderhede as sondebokke bestempel, die huidige situasie in Suid-Afrika weerspieël:
# Die Motsepe-stigting sê hy is gereed vir die jaarlikse Nasionale Dag van Gebed vandag by die FNB-stadion in Johannesburg. Die dag sal na verwagting meer as 120-duisend mense van uiteenlopende gemeenskappe en geloofsgebaseerde organisasies bymekaarbring. Die uitvoerende hoof van die stigting, Precious Moloi-Motsepe, sê die byeenkoms wil eenheid en sosiale samehorigheid bevorder en Suid-Afrikaners aanmoedig om in gebed bymekaar te kom en kollektiewe oplossings vir die nasie se sosiale uitdagings te vind.
Die Gautengse Verkeerspolisie doen intussen ‘n beroep op motoriste om versigtig te wees met swaar verkeer wat verwag word op hoofroetes en alle paaie rondom die stadion. Woordvoerder Sello Maremane waarsku teen moontlike nat toestande en doen ‘n beroep op bestuurders om stadiger te ry, veilige afstande te handhaaf en met wetstoepassers saam te werk:
# Die presidente van Demokratiese Republiek die Kongo en Rwanda sal die week na Washington vertrek om ‘n vredesooreenkoms te onderteken en met president Donald Trump te vergader. Die Rwanda-gesteunde M23-rebellegroep het die streek se twee grootste stede oorgeneem te midde van vrese dat ‘n groter oorlog meer van Kongo se bure kan betrek. In die jongste gevegte het duisende mense omgekom en honderdduisende is ontheem. Die vergadering sal na verwagting voortbou op ‘n vredesooreenkoms wat in Junie deur die VSA bemiddel is. Dit sluit ‘n Streeks-ekonomiese Integrasieraamwerk in.
# En ten slotte rugby: Die Springbokke het Wallis in Cardiff die ergste nederlaag ooit toegedien met ‘n 73-0 oorwinning. Die Bokke het 11 drieë aangeteken om hul November-toer perfek af te sluit. Die telkaart is aan die einde van die wedstryd egter ontsier deur ‘n permanente rooi kaart vir Eben Etzebeth, die Springbok met die meeste wedstryde ooit. Hy het in ‘n onderonsie met Alex Mann sy vinger in Mann se oog gedruk, wat duidelik op video te sien was. Die eensydige vertoning deur die Springbokke het Wallis se nagmerrie op toetsvlak voortgesit en Suid-Afrika se status as die beste toetsspan ter wêreld herbevestig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….