Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 28 November 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Tsogo Sun verhoog sy aanlyn dobbelary-aanbieding ten spyte van dreigende belasting. Die koerant skryf die groep beoog sowat duisend nuwe speletjies terwyl die Tesourie aanlyn dobbelarybelasting oorweeg.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf president Cyril Ramaphosa het die week genoeg gehad van Amerika se geboelie en self ‘n paar klappe uitgedeel.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig oor die voortgesette getuienis van Vusimuzi ‘Cat’ Matlala voor die parlementêre ad hoc-komitee. Hy het getuig hy het ‘n toksiese vehouding gehad met oudminister Bheki Cele en die minister het baie druk op hom geplaas en eise aan hom gestel.
Dan skryf die webblad die veroordeelde moordenaar, Najwa Petersen sal eers op 26 November 2026 weer voor die paroolraad verskyn. Sy het skynbaar nog nie volle berou getoon vir die moord in 2006 op haar man, die sanger Taliep Petersen nie.
En laastens is daar nuus oor die bek-en-klouseer-uitbreking. Die moontlikheid bestaan dat die virus reeds begin muteer het en nie net deur regstreekse kontak versprei nie.
GAUTENG:
# The Star:
Stel die ses kandidate voor wat op die kortlys is om as Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging aangestel te word. Hulle sal nou voor ‘n raadgewende paneel onder voorsitterskap van die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, verskyn om die keuringsproses af te handel.
# Sowetan:
Berig ook oor Matlala se getuienis. Die koerant skryf hy maak ingrypende uitlatings terwyl hy telkens beweer hy ly aan geheueverlies.
# En The Citizen:
Lei met: “CAN YOU REALLY AFFORD IT?” Die koerant skryf oor Swart Vrydag vandag en vra of verbruikers werklik kan bekostig om wilde inkopies te doen. Absa voorspel dat Suid-Afrikaanse verbuikers vandag 4,5-miljard-rand gaan uitgee.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig nog voordat die Kaapstadse tariefkwessie volgende week in die Hooggeregshof op die spits gedryf word, het dit aan die lig gekom dat die sentrale regering Kaapstad reeds in 2018 in kennis gestel het dat ‘n tweede tarief nie op huiseienaars gehef mag word nie.
Dan skryf die koerant ‘n 12-jarige seuntjie van Ladysmith veg om sy lewe nadat sy maatjie hom in ‘n fratsongeluk in die kop geskiet het. Die kinders se name word weerhou omdat hulle minderjarig is.
En laastens is daar nuus oor ‘n busbestuurder wat agter die stuur van ‘n Elwierda-bus ‘n hartaanval gekry het en oor ‘n verkeerslig en deur ‘n muur in Roggebaai geploeg het. Die bestuurder is oorlede maar niemand anders is in die voorval beseer nie.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig die ANC in Buffalo City is gewaarsku om sy interne probleme op te los.
En tweedens is daar nuus oor die Msikaba-brug in Lusikisiki.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die MK-party se poging om die regering van provisiale eenheid uit die kussings te lig, is vir eers geblok. Die mosie van wantroue in die premier, Thami Ntuli sal nou eers in Desember ingedien word.
En tweedens berig die koerant ook oor Matlala se getuienis oor geld wat ‘n groot rol gespeel het in sy verhouding met Cele.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Landless People’s Movement, wat 12 kiesafdelings in 2020 gewen het, het gister asem opgehou toe dit blyk dat Swapo volgens vroeë streekraadsuitslae aansienlike vordering in die suide gemaak het.
En tweedens skryf die koerant ’n brand wat die saaklêergebou by die Rundu-landdroshof in puin gelê het, het onder verdagte omstandighede ontstaan.