Nuus 06:00
BULLETIN 28 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse regering veroordeel die militêre staatsgreep in Guinee-Bissau
# Die EFF doen ‘n beroep op die ander G20-lede om Suid-Afrika se plek te bevestig
# En verbruikers word versoek om vandag op Swart Vrydag versigtig te wees
# Die Presidensie sê die Suid-Afrikaanse regering veroordeel die militêre staatsgreep in Guinee-Bissau en noem dit ‘n bedreiging vir demokrasie gedurende ‘n kritieke verkiesingstydperk. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, moedig vreedsame dialoog aan en sê Suid-Afrika sal met die Afrika-Unie en die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrikaanse State saamwerk om bestendigheid in Guinee-Bissau te herstel:
# Die EFF kritiseer Amerikaanse president Donald Trump omdat hy dreig om Suid-Afrika van volgende jaar se G20-beraad in Miami, Florida, uit te sluit. Hulle sê Trump se optrede is ‘n woedebui oor Suid-Afrika se steun aan Palestina. Die party sê Trump se bewerings van wit volksmoord is vals. Sinawo Thambo van die EFF spoor ander G20-lede aan om Suid-Afrika se regmatige insluiting te herbevestig en beskryf Trump se jongste optrede as roekeloos.
# Ses kandidate is in die wedloop om Suid-Afrika se volgende Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings te word, insluitend die voormalige hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag se Ondersoekdirektoraat, advokaat Hermione Cronje. Die ander kandidate is die NVG Wes-Kaapse Direkteur van Openbare Vervolging, advokaat Nicolette Astraid Bell; die NVG-ondersoekdirekteur, advokaat Andrea Johnson; die voorsitter van die Global Coalition to Fight Financial Crime, advokaat Xolisile Jennifer Khanyile; die NVG Wes-Kaapse adjunkdirekteur van Openbare Vervolging, advokaat Adrian Carl Mopp; en Menzi Simelane van die Johannesburgse Vereniging van Advokate.
# Die MK-party se mosie van wantroue in die premier van KwaZulu-Natal, Thamsanqa Ntuli, is goedgekeur, en lede van die wetgewer sal op 15 Desember daaroor stem. Die mosie verwys na finansiële wanbestuur en Ntuli se versuim om sy belofte van werksgeleenthede na te kom. Sibonelo Nomvalo van die MK-party sê die mosie is om die mense van die provinsie te red van die regering van provinsiale eenheid:
# Rugby: Suid-Afrika en Wallis gaan ‘n onbekende faktor in die middel hê wanneer hulle Saterdag in Cardiff teen mekaar speel. Die taamlik onbekende Franse skeidsregter, Luc Ramos, sal in sy eerste Springboktoets blaas. Hy word bygestaan deur sy landgenoot Pierre Brousset en die Engelsman Matthew Carley, wat vyf kaarte aan Ierland uitgedeel het in verlede naweek se nederlaag teen Suid-Afrika. ‘n Oorwinning sal die Bokke onoorwonne laat nadat hulle reeds ook vir Japan, Frankryk en Italië geklop het. Afskop op die Principality-stadion is tien oor vyf die middag.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-392-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-162-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-86-sent per vat.
# En ten slotte: Dis vandag Swart Vrydag, en verbruikers word aangespoor om versigtig aankope te doen om te verhoed dat hulle bedrieg word. Suid-Afrikaanse verbruikers het in 2024 meer as 30-miljard-rand tydens Swart Vrydag deur slegs drie groot banke bestee. Aanlyn inkopies het ‘n beduidende toename van 14-persent getoon in die aantal kliënte wat aanlyn transaksies doen. JustMoney sê verbruikers kan keer dat hulle bedrieg word deur ‘n kredietkaart eerder as ‘n debietkaart te gebruik, op te let vir vals aanlyn winkels, en nie op SMS- of WhatsApp-afslagskakels te klik nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….