Nuus 13:00
BULLETIN 27 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kandidate vir Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings is op ‘n kortlys geplaas vir finale onderhoude
# Die DA sê Gigaba kan nie opsystaan van ANC-pligte maar aanbly in die parlementêre komitee op Verdediging nie
# En die dodetal na ‘n brand in ‘n Hongkongse woonstelkompleks styg tot minstens 55
# Onderhoude kan nou gevoer word vir die nuwe Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging. Die raadgewende paneel vir die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, het ses name op ‘n kortlys geplaas nadat 32 aansoeke nagegaan is. Dit volg op ‘n beroep dat benoemings deur die Regspraktykraad verbreed word. Die ses is senior amptenare van die Nasionale Vervolgingsgesag, Nicolette Bell, Andrea Johnson en Adrian Mopp, die teen-korrupsie-spesialiste Hermione Cronjé en Xolisile Khanyile, en die voormalige hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, Menzi Simelane. Openbare kommentaar word nou ingewag.
# Die DA sê hy is diep bekommerd dat Malusi Gigaba opsystaan uit alle ANC-leierskaprolle, maar aanbly as medevoorsitter van die Parlement se gesamentlike staande komitee oor Verdediging. Die voormalige minister van Openbare Werke word aangekla van korrupsie in Transnet se omstrede lokomotief-ooreenkoms van miljarde rand. Chris Hattingh van die DA sê Gigaba se voortgesette teenwoordigheid as medevoorsitter ondermyn die Parlement se geloofwaardigheid en die integriteit van Suid-Afrika se verdediging-oorsigstelsel:
# Die vakverbond Cosatu sê hy is ontsteld omdat Amerika voortgaan met bewerings oor wit volksmoord en grondbesettings in Suid-Afrika. Hy sê dit gebeur steeds, al het toonaangewende akademici, media-instellings en gewone burgers van alle rasse in Suid-Afrika bewys dit is fopnuus. Matthew Parks van Cosatu sê dit is ‘n vertroosting dat hierdie mites luidrugtig betwis word deur boere, ondernemings en vooraanstaande Afrikaners:
# Die dodetal in ‘n hewige brand wat steeds in ‘n hoë woonstelgebou-kompleks in Hongkong woed, het tot 55 gestyg, terwyl byna 300 mense steeds vermis word. Brandbestryders sukkel steeds ‘n volle dag om inwoners wat op die boonste verdiepings vasgekeer is, te bereik. Die polisie sê die brand is moontlik veroorsaak deur ‘n bouwerk-onderneming wat onveilige toerusting tydens opknappings gebruik het, met owerhede wat sê bamboes-steierwerk het moontlik tot die brand bygedra. Drie bestuurders van die bouwerk-onderneming is intussen in hegtenis geneem wees verdagte manslag.
# Tennis: Die gewese Australiese speler en afrigter Rennae Stubbs het Jannik Sinner se besluit verdedig om aan Italië se Davisbeker-span te onttrek en sê hy is uitgeput en verdien ‘n bietjie simpatie. Sinner het vroeër gesê dit was nie so ‘n groot kwessie nie want sy land het ander puik spelers, wat bewys is toe hulle die titel Sondag die derde agtereenvolgende jaar ingepalm het. Stubbs sê Sinner het ‘n besige paar maande agter die rug, insluitend drie toernooi-oorwinnings in ‘n ry, waaronder die Paryse Meesters en die ATP-eindtoernooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 22-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-674-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-154-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….