Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 27 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Suid-Afrika se geskiedkundige toetsreeksoorwinning oor Indië plaas hom in die tweede plek in die huidige Wêreldtoetskampioenskap wat tot 2027 strek. Die verdedigende kampioen het Indië in die tweede toets in Guwahati met 408 lopies verslaan vir ‘n reeksoorwinning van 2-0, hul eerste in Indië in 25 jaar. Australië is boaan die ranglys met vier oorwinnings in vier toetse, met Sri Lanka derde en Pakistan vierde. Indië het na die vyfde plek afgeskuif met vier oorwinnings uit nege wedstryde.
Indië se hoofafrigter, Gautam Gambhir, het intussen gesê die finale besluit oor sy termyn berus by die land se beheerliggaam ná Indië se grootste lopie-nederlaag ooit. Dis Indië se tweede tuisreeks-nederlaag in twee jaar nadat hy verlede jaar ook teen Nieu-Seeland verloor het. Gambhir sê die besluite wat tydens die reeks geneem is, was in die span se beste belang:
En nog krieketnuus: Altesaam 277 spelers is te koop op vandag se veiling vir volgende jaar se Vroue-premierliga in Indië. Dit sluit 194 plaaslike spelers en 83 buitelanders in. Onder die Suid-Afrikaners wat opgeraap kan word, is die Protea-kaptein, Laura Wolvaardt, wat groot belangstelling kan verwag na haar briljante vertoning op die onlangse eendag-Wêreldbekertoernooi, haar spanmaats Tazmin Brits, Lizelle Lee, Ayabonga Khaka, Nonkululeko Mlaba, Anneke Bosch, Chloé Tryon en Suné Luus, asook die veteraan Shabnim Ismael. Die toernooi begin op 11 Februarie.
# Rugby: Die Verenigde Rugbykampioenskap hervat hierdie naweek en al vier Suid-Afrikaanse spanne speel. Daar is groot belangstelling in Saterdagmiddag se Jukskei-derby op Loftus in Pretoria, waar die sesde-geplaasde Bulle om twee-uur teen die agtste-geplaasde Leeus te staan kom. Die voorloper op die punteleer, die Stormers, kan ‘n kwaai stryd verwag teen die onoorwonne Munster in Limerick, Ierland, met afskop die aand 7.30. Later die aand gaan die 13de-geplaasde Haaie hul Europese toer voortsit met ‘n wedstryd teen ‘n ander Ierse span, Connacht, in Galway.
# En motorsport: Die Formule Een-ontwerplegende, Adrian Newey, sal van volgende jaar Aston Martin se nuwe spanhoof wees. Hy sal hierdie rol vervul, sowel as dié van besturende tegniese vennoot wat hy sedert Maart vanjaar beklee ná 18 jaar by Red Bull. Andy Cowell, wat die afgelope jaar die span- en uitvoerende hoof was, is die nuwe hoof-strategiebeampte. Aston Martin sê die verandering aan die leierskapstruktuur is gemik op Newey en Cowell se individuele sterkpunte en kundigheid om organisatoriese doeltreffendheid te verseker.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….