Nuus 12:00
BULLETIN 26 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA eis die gewese hoof van die Padongelukkefonds moet vervolg word na hy nie by die Parlement opdaag nie
# Die Italiaanse Parlement aanvaar ‘n wet wat vrouemoord strafbaar maak met lewenslange tronkstraf
# En krieket: Suid-Afrika verseker sy eerste toetsreeksoorwinning op Indiese bodem in 25 jaar
# ActionSA vra dat die gewese uitvoerende hoof van die Padongelukkefonds, Collins Letsoalo, onmiddellik strafregtelik vervolg word. Dit volg nadat hy ‘n dagvaarding ignoreer het om voor die parlementêre staande komitee oor Openbare Rekeninge te verskyn. Die komitee ondersoek diepgewortelde finansiële wanbestuur binne die fonds. ActionSA se woordvoerder, Matthew George, sê Letsoalo se besluit is nie net ʼn persoonlike verwerping van aanspreeklikheid nie, maar ʼn aanval op die Parlement se grondwetlike gesag:
# Die ANC sê Suid-Afrika kan nie die waardes van die Vryheidsmanifes ten volle verwesenlik of sy demokratiese winste saamvoeg terwyl vroue, kinders en kwesbare persone steeds met bedreigings leef nie. Die 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders word tans tot 10 Desember gehou. Die ANC se woordvoerder, Mahlengi Bhengu, sê hulle vra die samelewing om hul pogings te verskerp en voorkoming te versterk, oorlewendes te ondersteun en toeganklike geregtigheid en psigo-maatskaplike dienste vir die betrokkenes te verseker:
Italië se Parlement het intussen eenparig gestem dat ʼn nuwe wet goedgekeur word wat vrouemoord ʼn misdaad maak wat met lewenslange tronkstraf gestraf word. Honderd-en-ses moorde op vroue is verlede jaar aangemeld, waarvan 62 deur ʼn lewensmaat of gewese lewensmaat gepleeg. Italië se eerste minister, Giorgia Meloni, beskryf die goedkeuring van die wet as ʼn teken van politieke samehang teen die barbaarse aard van geweld teen vroue. Italië sluit nou aan by Ciprus, Malta en Kroasië wat ʼn regsdefinisie van vrouemoord in hul misdaadkodes het.
# Krieket: Die heersende IKR-wêreldtoetskampioen, Suid-Afrika, het Indië met ‘n reuse-408 lopies verslaan om hul eerste reeksoorwinning op Indiese bodem in 25 jaar te verseker. Simon Harmer het ses paaltjies geneem toe die gashere in hul tweede beurt uitgeboul is vir 140 in die tweede en laaste toets. Die Proteas het 489 in hul eerste beurt aangeteken toe Senuran Muthusamy 109 bygedra het. Indië is daarna vir 201 uitgeboul toe Marco Jansen ses paaltjies geneem het. Suid-Afrika het hul tweede beurt op 260 vir vyf gesluit.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 22-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-516-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-165-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-62-sent per vat.
# En ter afluiting: ‘n Vrou wat vir verassing by ‘n Thaise tempel aangekom het, is lewend in haar kis gevind. Die 65-jarige is na ‘n Boeddhistiese tempel aan die buitewyke van Bangkok geneem nadat sy twee dae tevore skynbaar ophou asemhaal het. Haar familie het haar liggaam honderde kilometer ver vervoer en was besig met voorbereidings vir die verassing. Oomblikke voordat die diens begin het, het die geskokte tempelbestuurder egter ‘n dowwe geklop vanuit die kis gehoor. Die vrou is daarna behandel voordat sy aan haar broer oorhandig is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….