Nuus 17:00
BULLETIN 24 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Zane Dangor beklemtoon die bevordering van Afrika se kritieke minerale-soewereiniteit
# KZN se premier verbind geslagsweld met mans se gedrag
# En, China kritiseer Japan se plan om missiele op ‘n eiland naby Taiwan te gebruik
# Die direkteur-generaal van Internasionale Betrekkinge, Zane Dangor, sê die G20-raamwerk verseker verantwoordbaarheid en die etiese bestuur van Afrika se kritieke minerale. Dangor het tydens ‘n onderhoud met Newzroom Afrika beklemtoon Afrika se hulpbronskatte kan nou debatte oor soewereiniteit, handel en befondsing by die Verenigde Nasies en die Wêreldbank aandryf. Hy voeg by die raamwerk is daarop gemik om die sogenaamde ”hulpbronvloek” te voorkom, veerkragtige en etiese voorsieningskettings te bevorder en Afrika se posisie in globale handelsbesprekings te versterk:
# KwaZulu-Natal se premier, Thami Ntuli, sê geslagsgeweld en vrouemoord hou dikwels verband met gedragspatrone onder mans. Hy het gevra vir kreatiewe platforms vir mans om hulle gevoelens uit te druk eerder as om vroue en kinders seer te maak. Ntuli vra ‘n vennootskap met die media om bewusmaking oor geslagsgeweld te vergroot. Hy verwys ook na drank en dwelms as vername bydraers, en vra polisie-optrede om middelmisbruik te verminder en geslagsgeweld-statistiek te verbeter:
# China beskryf Japan se gebruik van missiele op ‘n eiland naby Taiwan as ‘n doelbewuste poging om konfrontasie uit te lok. Dit volg op die ergste diplomatieke krisis in jare, nadat Japan se eerste minister, Sanae Takaichi, vroeër gesê het ‘n Chinese aanval op Taiwan kan militêre reaksie van Tokio ontlok. Beijing beskou Taiwan as sy grondgebied en sluit nie die gebruik van geweld uit om dit oor te neem nie. Taiwan het vroeër gesê Japan het die reg om stappe te doen om sy gebied te beveilig.
# Krieket: Nieu-Seeland se voorste toets-lopiemaker, Kane Williamson, is ingesluit in die groep van 14 spelers wat die Wes-Indiese Eilande volgende maand in ‘n reeks van drie wedstryde pak. Hy het die reeks teen Zimbabwe in Augustus misgeloop. Die snelboulers Jacob Duffy en Zak Foulkes is ingesluit, asook Blair Tickner wat die eerste keer sedert 2023 ook terug is in die span. Die eerste toets begin volgende Dinsdag in Christchurch. Dis die Swart Pette se eerste reeks as deel van die Wêreld-toetskampioenskap van 2025 tot ’27.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-28-sent teen die dollar, 19-rand-94-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-270-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-82-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-92-sent per vat.
# En ten slotte, die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ernstige vlak twee en vier waarskuwings vir Johannesburg uitgereik terwyl hewige donderstorms voortduur. Die waarskuwings dui op ‘n hoë gevaar van oorstromings, gevaarlike bestuurstoestande en vinnig stygende watervlakke. Weervoorspeller, Lehlohonolo Thobela, voorspel buie en donderbuie in die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Gauteng, Noordwes, die noordelike dele van die Noord-Kaap en hoogliggende gebiede in Mpumalanga. Inwoners word versoek om voorspellings te monitor.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….