Nuus 06:00
BULLETIN 24 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Afrika se prioriteite is op die G20-agenda geplaas
# Nuwe bek-en-klouseergevalle lei tot beperkings in die Vrystaat
# En Donald Trump sê Oekraïense leiers is ondankbaar
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika se presidentskap wou graag Afrika se groei en ontwikkeling die fokuspunt van die G20 se agenda maak. Hy het gister die G20-leiersberaad in Johannesburg afgesluit, die eerste beraad wat in Afrika gehou is. Ramaphosa sê die wêreldwye Groep van 20 het gewys hy het steeds die vermoë om saam te kom in die nastrewing van ‘n beter wêreld. Hy sê die grootste geleentheid vir voorspoed in die 21ste eeu lê in Afrika:
Ramaphosa sê ook die Leiersverklaring van die G20-beraad in Suid-Afrika is ‘n verbintenis tot daadwerklike aksies wat die lewens van mense in elke deel van die wêreld sal verbeter. Die verklaring is Saterdag op die eerste dag van die Leiersberaad met oorweldigende konsensus aanvaar. In sy slotopmerking sê Ramaphosa die verklaring bewys ook deur die G20 se hernude verbintenis tot multilaterale samewerking en erkenning, dat sy gedeelde doelwitte swaarder weeg sy verskille:
# Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Plaaslike Regerings sê die besluit om die ingebruikneming van die AARTO-stelsel tot 1 Julie 2026 uit te stel, gee munisipaliteite tyd om sleuteluitdagings op te los, insluitend opleiding, stelselbelyning en volhoubare befondsing. Die woordvoerder van SALGA, Motalatale Modiba, sê die organisasie het die konstruktiewe betrokkenheid geprys en opgemerk dat voortgesette konsultasie noodsaaklik is. Hy het SALGA se verbintenis tot ‘n vennootskap met die regering beklemtoon om padongelukke te verminder en wetstoepassing te verbeter.
# Die Departement van Landbou het 15 nuwe gevalle van bek-en-klouseer in die Vrystaat vir November 2025 bevestig. Die beweging van diere is nou beperk tot ‘n radius van tien kilometer rondom besmette plase. Amptenare sê die uitbreking is deel van ‘n groter, voortdurende vlaag wat verskeie provinsies tref en groot finansiële druk op veeboere plaas. Regeringspogings waaronder kwarantyn, inenting en verskerpte toesig, duur voort. Owerhede waarsku die voortgesette uitbreking kan bydra tot stygende koste en verdere druk op die landbousektor.
# Die Amerikaanse president Donald Trump sê die Oekraïense president Volodymyr Zelensky en sy regering toon geen dankbaarheid vir Amerika se pogings om die oorlog te beëindig nie. Trump plaas Oekraïne onder druk om sy 28-punt-vredesplan te aanvaar, wat wyd as gunstig vir Rusland beskou word en kommer onder Europese bondgenote uitgelok het. In ‘n plasing op sy Truth Social-platform sê Trump hy het ‘n oorlog geërf wat nooit moes gebeur nie, en wat almal laat verloor, veral die miljoene mense wat onnodig gesterf het.
# Motorsport: Die kampioenskapsleier Lando Norris en sy McLaren-spanmaat Oscar Piastri is albei gediskwalifiseer in die Las Vegas Grand Prix, nadat hul onderskeie motors tegniese toetse na die wedren gedruip het. Daar is na die wedren bevind die glyblokke op beide motors is minder as die minimum diepte. Norris was tweede en Piastri vierde. Red Bull se Max Verstappen het die wedren gewen, Mercedes se George Russell is na tweede verskuif met sy spanmaat Kimi Antonelli in die derde plek. Norris lei nou die kampioenskap met 24 punte voor Piastri en Verstappen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-36-sent teen die dollar, 20-rand-1-sent teen die euro en 22-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-927-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-64-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….