Nuus 09:00
BULLETIN 23 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Steenhuisen is tevrede met die insluiting van voedselsekerheid by die G20-verklaring
# Lede van Operasie Dudula is in hegtenis geneem na ‘n botsing met polisie buite die G20-lokaal
# En rugby: Malcolm Marx is aangewys as Wêreldrugby se Mans 15-Speler van die Jaar
# Die DA-leier en minister van Landbou, John Steenhuisen, sê die G20-leiersberaadverklaring is ‘n groot prestasie vir president Cyril Ramaphosa en Suid-Afrika. Die 30-bladsy verklaring fokus sterk op ontwikkelingskwessies in Afrika, insluitend die bevordering van ekonomiese groei en handel. Steenhuisen het aan die SABC gesê hy is verheug dat voedselsekerheid deel is van die finale verklaring en dat die G20 hom daartoe verbind het om veerkragtige en volhoubare voedselstelsels en -sekerheid te verseker deur middel van oop en nie-diskriminerende handelsbeleide:
Die Duitse Kanselier Friedrich Merz het intussen Afrika se ekonomiese potensiaal en vennootskappe onder die Vennootskap met Afrika by die G20 leiersberaad beklemtoon. Die vennootskap ondersteun deelnemende lande om ambisieuse hervormings in werking te stel en beleggings te mobiliseer. Merz het Duitsland se verbintenis herbevestig om voort te gaan met beleggings in Afrika, veral deur middel van die Vennootskap:
En steeds by die G20-beraad, die polisie het twee lede van Operasie Dudula in hegtenis geneem vir die verontagsaming van goedgekeurde protesroetes naby die Nasrec Expo-sentrum, waar die leiersberaad plaasvind. Spanning het buite die lokaal opgevlam, toe lede van Operasie Dudula en MK-partylede gister met die polisie gebots het. Polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die groep het probeer om hul pad na die beraadlokaal oop te forseer en die toegangspad wat deur wêreldleiers gebruik word, te blokkeer:
# Die Amerikaanse ambassade in Suid-Afrika gaan nie redes bekend maak vir die herroeping van voormalige minister van Internasionale Betrekkinge, Naledi Pandor, se visum nie, ingevolge vertroulikheid onder Amerikaanse wetgewing. Pandor is die voorsitter van die Nelson Mandela-stigting en is per e-pos van die besluit verwittig, sonder enige verduideliking. Waarnemers meen haar ondersteuning en rol in Suid-Afrika se Palestynse saak teen Israel in die Internasionale Geregshof het die besluit moontlik beïnvloed. Dit kom te midde van ‘n diplomatieke twis oor die oorhandiging van die G20-presidentskap aan die VSA na die aanvaarding van die verklaring deur G20-lede..
# Rugby: Die Springbok-haker Malcolm Marx is aangewys as Wêreldrugby se Mans 15-Speler van die Jaar vir 2025. Marx is ‘n dubbele Rugbywêreldbeker-wenner en het die sport se belangrikste individuele toekenning verower na ‘n uitstekende seisoen gekenmerk deur sy kragtige skrumwerk, afbreekwerk en vermoë om drieë te druk. Hy het drie ander spelers, onder andere sy landgenote Pieter-Steph du Toit en Ox Nche, uitgestof, en is slegs die vierde Suid-Afrikaner om met die gesogte toekenning vereer te word. Sy oorwinning verseker ‘n historiese agtereenvolgende oorwinning vir Suid-Afrika na Du Toit se sukses in 2024.
# En, Krieket: ‘n Briljante kolfvertoning deur Travis Head het Australië gelei tot ‘n oorwinning van agt paaltjies teen Engeland in die eerste toets om die As in Perth. Die besoekers is in hul beurte onderskeidelik vir 172 en 164 uitgeboul. In reaksie hierop is die tuisspan vir 132 in hul eerste beurt uitgeboul. Danksy Head se 123 lopies van 83 balle het Australië hul tweede beurt-teiken van 205 lopies in slegs 28 boulbeurte en twee balle bereik. Die Australiër Mitchell Starc het vir die derde keer tien paaltjies in ‘n toets platgetrek. Dit is die eerste keer sedert 1921 dat ‘n toets om die As binne twee dae beslis word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….