Nuus 15:00
BULLETIN 21 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ontleder waarsku spanning tussen Suid-Afrika en Amerika kan belangrike handelsgesprekke beïnvloed
# AfriForum stel ‘n veiligheidsgids bekend vir besoekers voor die G20-beraad
# En krieket: Rabada loop ook Suid-Afrika se tweede toets teen Indië mis
# Handelsbetrekkinge tussen Suid-Afrika en Amerika kan ernstig beïnvloed word namate die oorhandiging van die G20-presidentskap aan Amerika in die weegskaal hang. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het aangekondig hy sal ‘n junior ambassade-verteenwoordiger stuur om die presidentskap te ontvang, maar president Cyril Ramaphosa verwerp hierdie plan. ‘n Ontleder aan die Universiteit van Johannesburg, Oscar van Heerden, het teenoor SABC News gewaarsku groot kwessies hang in die weegskaal, insluitend die tariefverhoging van 30 persent:
Adjunkpresident Paul Mashatile lei ‘n Suid-Afrikaanse afvaardiging na die Suid-Afrika–Viëtnam-sakeforum in Sandton, Johannesburg, langs ‘n bilaterale vergadering met die Viëtnamese eerste minister, Pham Minh Chinh. Die forum val ook saam met Viëtnam se deelname aan die G20-leiersberaad. Die afvaardiging het vanoggend in Johannesburg aangekom. Dit volg ná president Ramaphosa se onlangse staatsbesoek aan Hanoi, wat bande versterk het met Viëtnam, wie se ekonomie verlede jaar met 7,09-persent gegroei het. Meer as 180 Suid-Afrikaanse ondernemings sal die forum bywoon, met verskeie ooreenkomste wat na verwagting onderteken sal word.
AfriForum se Gemeenskapsveiligheids-afdeling het ‘n omvattende veiligheidsgids bekend gestel vir besoekers, joernaliste en afgevaardigdes wat die G20-leiersberaad in Suid-Afrika bywoon. Die gids – Om veilig te bly in Suid-Afrika – rus buitelandse besoekers toe met praktiese raad om Suid-Afrika se unieke misdadige omgewing vry te spring. AfriForum sê internasionale besoekers onderskat dikwels die vlak van geweld en opportunistiese misdaad in die land, wat hulle baie weerloos laat. Woordvoerder Jacques Broodryk sê hulle doel is nie om besoekers af te skrik nie, maar om hulle te bemagtig.
# Standard Bank sê die Suid-Afrikaanse Reserwebank se besluit om die terugkoopkoers met 25 basispunte tot 6,75-persent te verlaag, was te verwagte. Die bank waarsku dat die volle uitwerking van die rentekoersverlaging op die ekonomie, veral verbruikersbesteding, eers oor 12 tot 18 maande gevoel sal word. Elna Moolman van die bank sê verdere rentekoersverligting kan volgende jaar volg, afhangende van inflasie en voedselkoste:
# Krieket: Die Protea-snelbouler Kagiso Rabada gaan ook die tweede toets teen Indië misloop weens die ribbesering wat hom uit die openingswedstryd in Kolkata gehou het. Hy word deur Lungi Ngidi vervang vir die kragmeting wat môreoggend in Guwahati begin. Kaptein Temba Bavuma sê die span is in ‘n goeie luim na hul oorwinning met 30 lopies op Eden Gardens, hul eerste in Indië sedert 2010. Daar is nou ook ‘n geleentheid om ‘n reeks in Indië te wen die eerste keer sedert Hansie Cronjé en sy span in 2000.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-98-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-877-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-41-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….