Nuus 18:00
BULLETIN 20 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank verlaag die terugkoopkoers met 25 basispunte tot 6,75-persent
# President Ramaphosa beklemtoon dringende globale uitdagings op die G20 Maatskaplike Beraad
# En, die rugbyslot, RG Snyman, begin sy 50ste toets op die bank
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee het eenparig besluit om die terugkoopkoers met 25 basispunte tot 6,75-persent te verlaag, in die lig van ‘n verbeterde inflasievooruitsig. Die President van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, het op ‘n nuuskonferensie gesê die stap weerspieël bestendiger ekonomiese groei, sterker huishoudelike besteding en verligting van inflasie, terwyl die sentrale bank verbind bly tot sy nuwe drie-persent-inflasieteiken:
# President Cyril Ramaphosa sê die G20-leiersberaad vind plaas te midde van globale onsekerheid, insluitend politieke verdeling, konflik, armoede en die uitwerking van klimaatsverandering. Hy het tydens die G20-Maatskaplike beraad beklemtoon ongelykheid, befondsingswanbalanse en beperkte toegang tot hulpbronne belemmer die vordering met die 2030 Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte. Ramaphosa beklemtoon Suid-Afrika se G20-presidentskap beoog om ontwikkelende ekonomieë te bevorder deur aandag te skenk aan armoede, ongelykheid en onderontwikkeling:
# Dit is Wêreldkinderdag en BOSA se adjunkleier, Nobuntu Hlazo-Webster, het ‘n versoekskrif aan die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, oorhandig waarin dringende optrede versoek word om die onderwyskrisis op te los. Sy het skole wat onderbefonds is, onveilige klaskamers en ‘n gebrek aan boeke en hulpbronne uitgelig, en vra hoër slaagstandaarde en beter toegang tot wiskunde. Hlazo-Webster sê elke kind moet die kans hê om in ‘n veilige en goed toegeruste skool te leer.
# Die Chinese eerste minister, Li Qiang, is die eerste keer in 28 jaar in Zambië op ‘n tweedaagse besoek, met die land wat uit ‘n finansiële krisis kom. China is Zambië se grootste amptelike skuldeiser met skuld van 98,6-miljard-rand. Zambië benodig vars belegging vir sy mynbousektor, infrastruktuur-netwerk en produksievermoë, terwyl China die uitvoer van trekkers, elektriese toerusting en bouvoertuie wil verhoog. Li sal hierdie naweek die G20-leiersberaad in Johannesburg bywoon.
# Rugby: Die groot slot RG Snyman sal sy 50ste toets vir die Springbokke op die bank begin wanneer hulle Saterdag teen Ierland in Dublin te staan kom. Die hoofafrigter Rassie Eramus het ‘n ervare groep vir die kragmeting aangekondig, wat as Suid-Afrika se moeilikste een van die toer beskou word. Daar is slegs twee veranderings aan die span wat Frankryk onlangs geklop het, met Ruan Nortjé wat bevorder is tot slot in die plek van die geskorste Lood de Jager, en Canan Moodie wat die vleuel is in die plek van die beseerde Kurt-Lee Arendse.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 22-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-676-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-78-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….