Nuus 17:00
BULLETIN 20 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank verlaag die terugkoopkoers met 25 basispunte tot 6,75-persent
# G20: President Ramaphosa sê geslagsgeweld en vrouemoord is ‘n nasionale krisis
# En, die parlementêre ad hoc-komitee waarsku hy sal nie die intimidasie van getuies duld nie
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee het eenparig besluit om die terugkoopkoers met 25 basispunte tot 6,75-persent te verlaag, in die lig van ‘n verbeterde inflasievooruitsig. Die President van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, het op ‘n nuuskonferensie gesê die stap weerspieël bestendiger ekonomiese groei, sterker huishoudelike besteding en verligting van inflasie, terwyl die sentrale bank verbind bly tot sy nuwe drie-persent-inflasieteiken:
# President Cyril Ramphosa sê Suid-Afrika het geslagsgeweld en vrouemoord tot ‘n nasionale krisis verklaar. Hy het vandag tydens die G20 Maatskaplike Beraad in Ekurhuleni gesê die land kan net gemeenskappe bou wat in gelykheid gewortel is, indien die regte van vroue en meisies gehandhaaf word. Die president sê geen samelewing kan floreer terwyl geslagsgeweld en vrouemoord voortduur en vroue ontken word nie:
# Die Parlement se ad hoc-komitee wat ondersoek instel na polisiekorrupsie, sê hy sal nie intimidasie van getuies duld nie. Dit volg na bewerings dat die forensiese ondersoeker, Paul O’Sullivan ‘n dreigende boodskap aan Cedric Nkabinde, die stafhoof van die minister van Polisie, Senzo Mchunu, gestuur het, terwyl Nkabinde getuig het. Komiteelede vra dat O’Sullivan dringend voor die ad hoc-komitee moet verskyn. Die komitee vra ook vir regstappe om getuies te beskerm en die beweerde intimidasie aan te spreek. Nkabinde het O’Sullivan geïmpliseer in inmenging met polisiebedrywighede en dat hy senior amptenare beïnvloed het:
# Vier mense is vroeër vandag dood en 18 gewond in Israelse lugaanvalle in Khan Younis in die suidelike Gazastrook. Hamas en Israel gee mekaar steeds die skuld vir die oortreding van ‘n byna ses-weke-oue wapenstilstand. Paramedici sê drie mense, insluitend ‘n babadogtertjie, is dood in ‘n aanval op ‘n huis in Bani Suhaila, oos van Khan Younis, en 15 gewond, terwyl nog ‘n man dood en drie mense gewond is in die nabygeleë Abassan. Israel se Weermag het die aanvalle bevestig, maar is nie bewus van ongevalle nie.
# Motorsport: McLaren se renjaer, Lando Norris, wat goed op dreef is om sy eerste wêreldkampioenskaps-titel te buit, verwag die naweek ‘n uitdagende wedren in die Las Vegas Grand Prix in Amerika. Hy skryf dit toe aan die baanuitleg en lae temperature. Die Brit het ʼn voorsprong van 24 punte bo sy Australiese spanmaat, Oscar Piastri. Norris, wat die vorige twee wedrenne in Mexiko en Brasilië gewen het, sê hy kon meer uit sy motor haal en het minder foute gemaak:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 22-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-607-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-76-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….