Nuus 17:00
BULLETIN 19 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cedrick Nkabinde getuig hy het Mogotsi nooit ‘n noue medewerker van Mchunu genoem nie
# Emirates se kode-deling met SAL verseker ‘n derde daaglikse vlug tussen Dubai en Kaapstad
# En, meer as 600 veldbrande is binne ‘n week in Kaapstad aangemeld
# Die stafhoof vir die ministerie van Polisie, Cedrick Nkabinde, het ontken hy het vir enigiemand gesê die sakeman Brown Mogotsi is ‘n noue medewerker van die minister van Polisie, Senzo Mchunu. Hy het teruggekeer na die parlementêre ad hoc-komitee nadat hy weggestuur is om vroeëre teenstrydige inligting op te klaar. Volgens Nkabinde het hy die eerste keer Mogotsi se kontaknommer by Mchunu ontvang om opdaterings te kry oor verlede jaar se polisie-konflikte met onwettige mynwerkers in Stilfontein, Noordwes:
# Die Emirates-lugredery gaan op 1 Julie volgende jaar ‘n derde daaglikse vlug tussen Dubai en Kaapstad instel en die beskikbare sitplekke tot meer as 600 per dag opstoot. Die Boeing 777-diens volg na die redery se onlangse kode-delingsooreenkoms met die Suid-Afrikaanse Lugdiens. Emirates sê Suid-Afrika bly ‘n hoeksteen in sy Afrika-netwerk. Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het die besluit verwelkom en sê meer regstreekse vlugte sal toerisme en werkskepping versterk. Die uitgebreide kode-deling verbeter naatlose reise tussen Suid-Afrika en 13 Afrika-bestemmings.
# Die Stad Kaapstad sê altesaam 632 veldbrande is binne ‘n week in die metro aangemeld. Die sterk suidoostewind wat sedert die begin van die maand woed, het daartoe bygedra. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê die meeste van die brande het veelvuldige hulpbronne vereis, met spanne wat vir ure in moeilike omstandighede moes werk om die brande onder beheer te kry:
# Minstens 20 mense, insluitend twee kinders, is dood en talle gewond toe ‘n oornagse Russiese hommeltuig- en missielaanval twee woonstelgeboue in die westelike Oekraïense stad Ternopil getref het. Plaaslike amptenare sê dis een van die dodelikste Russiese aanvalle in die streek sedert die volskaalse oorlog in Februarie 2022 begin het. Ses-en-sestig mense is gewond, waaronder 16 kinders. President Volodimir Zelensky sê Rusland het meer as 470 hommeltuie en 47 missiele afgevuur, wat aansienlike verwoesting gesaai het. Hy waarsku mense is moontlik ook onder die puin vasgekeer.
# Gholf: Die Suid-Afrikaners Garrick Hugo, tans 52ste, die 75ste-geplaasde Christiaan Bezuidenhout en die 85-ste geplaasde Erik van Rooyen, 85ste, is almal stewig binne die Top 100-spelers in die PGA-toer vir die 2026-seisoen. Al drie het vir vanjaar se laaste toernooi van die toer se FedExCup-herfsseisoen ingeskryf- die RSM Classic wat môre op Sea Island in Georgië in Amerika begin. Die toernooi is die laaste en belangrike geleentheid vir spelers naby die afsnylyn om hulle volle speelvoorregte vir die volgende seisoen te verseker.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-558-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-103-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….