Nuus 09:00
BULLETIN 19 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ronald Lamola sê die G20 moet ‘n boodskap stuur dat die wêreld sonder die VSA kan klaarkom
# Die GOOD-party sê die G20-beraad is ‘n uitstekende geleentheid vir die instelling van welvaartsbelasting
# En die MK-party veroordeel die goedkeuring van die modulêre kernprogram
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê die G20-leiersberaad sal selfs in Amerika se afwesigheid ‘n verklaring aanvaar. Hy het gister deelgeneem aan die eerste Bloomberg Africa-sakeberaad in Johannesburg. Amerika boikot die beraad blykbaar oor die vermeende volksmoord op wit Afrikaner-boere in Suid-Afrika. Lamola erken dit gaan nie maklik wees om die beraad se verklaring te aanvaar sonder die wêreld se rykste land nie:
Intussen sê die GOOD-party die G20-leiersberaad is die perfekte geleentheid vir president Cyril Ramaphosa om die instelling van ‘n meer progressiewe belastingstelsel aan te kondig. ‘n Onlangse studie deur Patriotic Millionaires en Oxfam SA het getoon dat die meeste Suid-Afrikaanse dollar-miljoenêrs ‘n jaarlikse belasting van twee persent op hul welvaart sou ondersteun om maatskaplike beskerming, onderwys en die energie-oorgang beter te befonds. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê ‘n spesiale belasting op die rykes kan ‘n hefboom wees om onvolhoubare ongelykheid aan te spreek:
# Die MK-party sê hulle is bekommerd oor die regering se besluit om die modulêre kernkragprogram aan te pak, ‘n inisiatief wat oorspronklik in 2010 deur oudpresident Jacob Zuma ondersteun is. Die besluit laat Suid-Afrika toe om aan die kernbrandstofsiklus deel te neem. Die MK-party sê die land het tydens Zuma se presidentskap die hulpbronne en die strategiese visie gehad om hierdie kritieke projek na te streef, maar dit is aan wetlike en politieke struikelblokke onderwerp. Hy sê dit is kommerwekkend dat ‘n program wat eens as onbekostigbaar afgemaak is, nou goedgekeur is.
# Die Saoedi-kroonprins Mohammed bin Salman sê die ondersoek na die moord op die joernalis Jamal Khashoggi in 2018 is korrek uitgevoer. Khashoggi, ‘n Amerikaanse joernalis en kritikus van Saoedi-Arabië se regering, is by die Saoedi-konsulaat in Istanbul vermoor. Die kroonprins het Dinsdag die Withuis besoek. Amerikaanse intelligensie het tot die gevolgtrekking gekom dat die kroonprins die moord op Khashoggi goedgekeur het. Bin Salman het aan verslaggewers gesê Khashoggi se moord was ‘n fout:
# Sokker: Skotland het die eerste keer in 28 jaar vir die 2026 FIFA-wêreldbeker gekwalifiseer nadat hy Denemarke met 4-2 verslaan het. Scott McTominay, Lawrence Shankland, Kieran Tierney en Kenny McLean se doele het Skotland se outomatiese kwalifisering verseker. Oostenryk was een doel agter, maar het teruggeveg en sy wedstryd teen Bosnië-Herzegowina het met een-elk gelykop geëindig. Dit verseker sy eerste deelname sedert 1998. Die 2010-kampioene Spanje, asook België en Switserland is deur na die Wêreldbeker wat in die Verenigde State, Kanada en Mexiko gehou word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 22-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-397-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-75-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….