Nuus 17:00
BULLETIN 17 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ronald Lamola bevestig Suid-Afrika sal volgende jaar se G20-beraad in Amerika bywoon ondanks die land se afwesigheid in SA
# Die ANC Vroueliga wens President Ramaphosa seën toe met sy verjaardag
# En, die DA waarsku die aangepaste kernkragvoorstel is finansieel onmoontlik en sal nie huidige kragtekorte oplos nie
# Die minister van Openbare Betrekkinge, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika sal volgende jaar deelneem aan Amerika se G20-presidentskap al woon die land nie dié naweek se leiersberaad in Suid-Afrika by nie. Hy het Suid-Afrika se verbintenis tot diplomatieke betrokkenheid beklemtoon en sê geskille met Amerika moet om die onderhandelingstafel bygelê word. Lamola het die belangrikheid beklemtoon van oop kommunikasie-kanale, bilaterale onderhandelings en regstreekse aandag aan kwessies as deel van doeltreffende diplomasie:
# President Cyril Ramaphosa vier vandag sy 73ste verjaarsdag in ‘n week wat sal uitloop op die G20-beraad, na Suid-Afrika se jaar lange presidentskap. Die ANC-Vroueliga vier die dag saam met die president en hoop sy leierskap sal deur wysheid en veerkragtigheid versterk word. Woordvoerder Nokuthula Nqaba sê hulle respekteer sy bestendige leierskap, verbintenis tot eenheid en toewyding aan geslagsgelykheid en vroue-bemagtiging. Sy sê Ramaphosa se visie vir ‘n regverdige, inklusiewe en vooruitstrewende Suid-Afrika inspireer steeds hoop.
# Die DA sê die regering benodig ‘n bekostigbare energieplan wat die kragkrisis kan oplos. Die party voer aan die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, se nuwe kernkragplan is te duur en sal waarskynlik nie die huidige kragtekorte oplos nie. Die DA is verder bekommerd oor Koeberg se verouderde kosteberamings en die papiergebaseerde lisensiëring by eenheid twee. Die DA-lid, Kevin Mileham, vra Ramokgopa om te fokus op werklike, onmiddellike oplossings om die netwerk uit te brei en nuwe energievervaardigers te ondersteun:
# Oekraïne se president, Volodimir Zelensky, het ‘n ooreenkoms met Frankryk onderteken vir 100 Rafale-oorlogsvliegtuie te midde van pogings om die land se langtermyn militêre vermoë te versterk om Rusland se inval teen te staan. Zelensky besoek Parys vir gesprekke met sy ampsgenoot, Emmanuel Macron, terwyl swaar Russiese aanvalle op Oekraïne die afgelope weke toegeneem het en Moskou doelgerigte vordering maak in die suidoostelike Zaporizhzhia-streek. Zelensky het gister op sosiale media gesê die ooreenkoms met Frankryk sal die land se gevegsvliegtuig-, lugverdedigings- en ander verdedigingsvermoëns aansienlik versterk.
# Krieket: Die heersende kampioen, Suid-Afrika, is nou tweede op die Internasionale Krieketraad se Wêreld-toetskampioenskaps-punteleer vir 2025 tot ’27. Dit volg na hul eerste toetsoorwinning in Indië sedert 2010 toe hulle gister in Kolkata met 30 lopies geseëvier het. Die Proteas is nou 24 punte agter Australië, met Sri Lanka derde, Indië vierde en Pakistan vyfde. Elkeen van die sewe lande in die kampioenskap speel drie reekse tuis en drie weg. Die twee topspanne dring deur na die eindronde in 2027.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 22-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-262-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-75-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….