Nuus 13:00
BULLETIN 14 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa waarsku oor oorhandiging aan ‘n leë stoel as Amerika die G20-beraad oorslaan
# Gift of the Givers vra Ramaphosa om Binnelandse Sake te ondersoek oor die weiering van toegang aan 153 Palestyne
# En rugby: Min veranderings aan Italië se span vir môre se wedstryd teen die Bokke
# President Cyril Ramaphosa sê hy sal die G20-presidentskap aan die Amerikaanse afvaardiging oorhandig, selfs al beteken dit die dokumente word op ‘n leë stoel geplaas, indien president Donald Trump of ander Amerikaanse verteenwoordigers nie opdaag vir volgende naweek se leiersberaad in Johannesburg nie. Hy het tydens ‘n skoonmaakveldtog in Kliptown, Soweto, Suid-Afrika se verbintenis tot voortgesette betrokkenheid by Amerika beklemtoon. Hy sê die land is ‘n belangrike handelsvennoot ondanks onlangse diplomatieke spanning:
Gift of the Givers vra Ramaphosa intussen om Binnelandse Sake en die Grensbestuursowerheid te ondersoek nadat 153 Palestynse reisigers gister toegang tot die land geweier is op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng. Stigter Imtiaz Sooliman sê die owerheid het opgetree ingevolge sy mandaat om passasiers sonder ‘n geldige vertrek-stempel toegang te weier. Hy sê Israel het egter hierdie arme mense se paspoorte doelbewus nie gestempel nie om hul lyding in ‘n vreemde land te vererger:
Die Konstitusionele Hof het hierdie week ‘n saak aangehoor oor Suid-Afrika se verpligtinge om asielsoekers te beskerm wat in hul geboortelande vervolg kan word. Die saak hou verband met twee Burundiese burgers wat tussen 2008 en 2012 na Suid-Afrika gevlug en ingevolge die Wet op Vlugtelinge om asiel aansoek gedoen het. Binnelandse Sake het dit geweier nadat bevind is hulle kon nie bewys hulle sal in gevaar verkeer in hul geboorteland nie. Laywers for Human Rights voer aan dis in stryd met Suid-Afrika se binnelandse en internasionale regsverpligtinge.
# Rusland se FSB-veiligheidsdiens sê hy het ‘n Oekraïnse komplot gedwarsboom om ‘n ongenoemde senior Russiese regeringsamptenaar te vermoor. Die FSB beskuldig Kiëf in ‘n verklaring ook dat soortgelyke aanvalle in ander dele van die land beplan is. Die veiligheidsdiens sê daar was ‘n Oekraïnse komplot om die amptenaar te vermoor toe hy familiegrafte in ‘n begraafplaas in Moskou besoek het. Oekraïne teiken Russiese militêre en ander amptenare binne Rusland sedert Moskou die land in Februarie 2022 aangeval het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-810-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-170-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….