Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 14 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Suid-Afrika kan die naweek seker maak hy sluit die jaar boaan die wêreldranglys af as alles volgens plan verloop, ondanks die uitslag van sy oorblywende toerwedstryde teen Ierland en Wallis. Om dit te bereik moet die Springbokke Italië môre in Turyn klop en Engeland moet die All Blacks op Twickenham verslaan. Die Bokke het hulle voorsprong op Nieu-Seeland in die tweede plek verhoog met verlede naweek se oorwinning oor Frankryk. Engeland is tans vierde na Ierland, wat môre teen die Wallabies speel.
Intussen is 42 spelers uitgenooi na ‘n weeklange belyningskamp vir die Springbok-vroue in Kaapstad. Die groep bestaan uit 21 spelers wat Suid-Afrika in September op die Wêreldbekertoernooi in Engeland verteenwoordig het, en verskeie ander wat verlede maand uitgeblink het op die Onder-20-vroueweek in Johannesburg. Afrigter Swys de Bruin sê die kamp sal hulle geleentheid gee om na sommige van die jong spelers te kyk ten einde ‘n beter begrip te vorm van hul vermoëns tussen die senior spelers.
# Olimpiese Spele: Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het bevestig dat Suid-Afrika beplan om te bie vir die Olimpiese en Paralimpiese Spele van 2036 of 2040 om een van die wêreld se grootste sportbyeenkomste die eerste keer na Afrika te bring. Suid-Afrika het in 2010 die eerste land op die vasteland geword om die Wêreldbeker-sokkertoernooi aan te bied het. Ntshavheni sê die land sal nie beduidende beleggings benodig om bestaande infrastruktuur te verbeter nie:
Ons sluit af met tennis:
Die 22-jarige Carlos Alcaraz is die tweede keer in sy loopbaan boaan die wêreldranglys aan die einde van die jaar. Die Spanjaard het die gesogte plek beklink toe hy die Italianer, Lorenzo Musetti, geklop en eerste geëindig het in die Jimmy Connors-groep op die ATP-jaareindtoernooi in Turyn om die halfeindronde te haal. Die Australiër Alex de Minaur het met die Amerikaner, Taylor Fritz, afgereken en na die halfeindronde deurgedring. Alcaraz sê dit beteken vir hom alles om die einde van die jaar as nommer een af te sluit:
En, die wêreld-nommer-nege, Lorenzo Musetti, het besluit om ook nie vir die tweemalige verdedigende kampioen, Italië, te speel in die Davisbeker-eindtoernooi wat Dinsdag in Bologna in sy geboorteland begin nie. Dit volg na ‘n soortgelyke besluit deur die land se beste speler, Jannik Sinner. Musetti is gister deur Alcaraz uitgeskakel uit die ATP-jaareindtoernooi. Hy sê hy het aan die Davisbeker onttrek omdat hy nie 100-persent fiks is nie en sy lewensmaat binne die volgende paar dae geboorte sal skenk aan hul tweede kind.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….