Nuus 08:00
BULLETIN 14 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Meer as 150 Palestynse vlugtelinge was vir meer as 12 uur by OR Tambo-lughawe gestrand
# Die EFF open ‘n saak van meineed teen minister Mchunu se personeelhoof, Cedrick Nkabinde
# En die BBC vra om verskoning aan Trump, maar verwerp sy eis vir vergoeding
# ‘n Groep van 153 Palestynse vlugtelinge was gister meer as 12 ure aan boord van ʼn Global Airways-vlug op OR Tambo Internasionale Lughawe gestrand, nadat hulle aanvanklik toegang tot die land geweier is. Die Grensbestuursowerheid sê die groep kon nie aandui hoe lank hulle gaan bly nie, en het nie die gewone vertrekstempels in hul paspoorte gehad nie. Gift of the Givers het egter aangebied om die reisigers te huisves. Die owerheid sê 23 van die 153 vlugtelinge het van Suid-Afrika na hul bestemmings vertrek terwyl die orige 130 passasiers se inligting verwerk word.
# Die EFF het ʼn saak van meineed teen die minister van Polisie, Senzo Mchunu, se personeelhoof Cedric Nkabinde aanhangig gemaak. Dit volg na sy verskyning die week voor die parlementêre ad hoc-komitee waar dit aan die lig gekom het dele van sy verklaring was vals. Hy word beskuldig dat hy gelieg het oor sy verhouding met die omstrede sakeman, Brown Mokgotsi. Die EFF se adjunk-sekretaris-generaal, Leigh-Ann Mathys, sê Nkabinde het die Parlement doelbewus mislei, feite verkeerd voorgestel en erken dat hy in sy beëdigde verklaring gelieg het:
# Statistieke Suid-Afrika sê mynbouproduksie het met 1,2-persent in September gestyg in vergelyking met dieselfde maand verlede jaar. Die grootste bydraers was platinum, goud en steenkool, terwyl mangaan en ystererts afgeneem het. In vergelyking met Augustus was produksie 2,2-persent hoër. Juan-Pierre Terblanche van Statistieke SA sê verkope was 8,2-persent hoër as in Augustus:
# Die BBC het president Donald Trump van Amerika verskoning gevra oor die redigering van ʼn toespraak in ʼn Panorama-program in 2024, wat tot die bedanking van sy direkteur-generaal, Tim Davie, en nuushoof Deborah Turness gelei het. Die program het ʼn toespraak van Trump doelbewus só geredigeer dat dit klink asof hy in Januarie 2021 reguit vra vir geweld by die Kongresgebou. Die BCC sê hy het opreg berou oor die manier waarop die toespraak geredigeer is, maar ontken dat daar ʼn basis vir ʼn lastersaak is.
# Tennis: Die 22-jarige Carlos Alcaraz is die tweede keer in sy loopbaan aan die einde van die jaar boaan die wêreldranglys. Die Spanjaard het die gesogte plek beklink nadat hy die Italianer, Lorenzo Musetti, geklop en by die ATP-jaareindtoernooi in Turyn eerste in die Jimmy Connors-groep geëindig om die halfeindronde te haal. Die Australiër Alex de Minaur het met die Amerikaner, Taylor Fritz, afgereken en na die halfeindronde deurgedring. Alcaraz sê dit beteken vir hom alles om die einde van die jaar as nommer een af te sluit:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 22-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-265-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-209-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….