Nuus 06:00
BULLETIN 13 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die VSA-boikot sal nie die G20-beraad stop nie
# Die GOOD-party kritiseer die voortgesette reddingsboeie vir staatsinstellings
# En rugby: Edwill van der Merwe verwag ‘n onvoorspelbare stryd teen Italië
# President Cyril Ramaphosa sê die VSA se besluit om die komende G20-beraad by die Nasrec-eksposentrum in Johannesburg te boikot, is hulle verlies. Ramaphosa het na afloop van die vyfde mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring gesê die afwesigheid van die wêreld se grootste ekonomie, gelei deur president Donald Trump, sal nie keer dat sleutelbesluite geneem word nie, en bygevoeg dat boikotte min bereik.
# Die GOOD-party sê die ekonomie is bestendig, met skuld wat stabiliseer op 77,9-persent en ‘n laer inflasieteiken wat verligting bied vir beleggers en huishoudings. Die party sê egter ekonomiese groei is traag teen 1,2-persent, en sal na verwagting slegs 1,8-persent teen 2028 bereik, wat armoede en ongelykheid onopgelos laat. GOOD se sekretaris-generaal Brett Herron het ook die Denel-reddingsboei gekritiseer en sê die regering doen nie genoeg om kwesbare mense te ondersteun nie:
Intussen verwelkom RISE Mzansi sekere aspekte van die begroting, insluitend die hersiene drie persent-inflasieteiken en die Inkomstediens se hupstoot van vier-miljard-rand, wat na verwagting 19,7-miljard-rand meer in inkomste sal insamel. Mabina Seabe van die party sê egter daar is steeds kommer oor die lae groeivooruitskatting van 1,2-persent, wat onvoldoende is om werk te skep. Hy sê die organisasie dring aan op beleggings in infrastruktuur, etiese plaaslike regeringsleierskap en goed gereguleerde openbare-privaat vennootskappe om volhoubare groei en ekonomiese insluiting te stimuleer:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Mobiliteit, Isaac Sileku, het Woensdag se skietery by die Nyanga-taxistaanplek veroordeel en is diep bekommerd oor die voortgesette geweld wat pendelaars en plaaslike gemeenskappe raak. Die voorval beklemtoon weereens die dringende behoefte aan sterker polisiëring, veiligheidsmaatreëls en gemeenskapsbetrokkenheid ten einde misdaad by openbare vervoersentrums te bekamp. Sileku doen ‘n beroep op owerhede om vinnig op te tree om oortreders vas te trek en te verseker dat inwoners veilig kan reis:
# Noorweë sê hy kan ‘n Europese Unie-plan ondersteun om bevriesde Russiese bates vir Oekraïne te gebruik, maar hy sal nie sy soewereine welvaartfonds as ‘n enigste finansiële rugsteun vir die skema gebruik nie. Dit volg nadat sommige Noorweegse parlementslede voorgestel het dat die land se soewereine welvaartfonds, die wêreld se grootste, ‘n waarborg kan bied wat moontlike regsaanspreeklikheid sal dek. Noorweë se minister van Finansies, Jens Stoltenberg, sê die land, wat nie ‘n lid van die EU is nie, maak reeds groot finansiële bydraes tot Oekraïne.
# Rugby: Vleuel Edwill van der Merwe sê die Springbokke verwag ‘n vinnige, onvoorspelbare stryd Saterdag teen Italië in Turyn. Albei spanne het die afgelope naweek inspirerende oorwinnings behaal: die Bokke het Frankryk ten spyte van ‘n rooi kaart met 32-17 gewen, terwyl die Azzurri die Wallabies met 26-19 geklop het. Van der Merwe beskryf Italië as ‘n span wie se aanvallende struktuur en flair dié van Argentinië weerspieël, en skryf dit toe aan die Argentynse afrigter Gonzalo Quesada se invloed. Bok-hoofafrigter Rassie Erasmus sal vanmiddag sy span aankondig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-7-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 22-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-924-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-196-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….