Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 13 November 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa het vinnig opgetree om Dion George met Willie Aucamp te vervang as minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig Ramaphosa sê die VSA sal moet besluit of boikot-politiek werk wanneer hy nie die G20-beraad bywoon nie.
Dan skryf die webblad Anton en Rensche Bougas, die ouers van Anthonie van die Kleuterzone-groep, is terug in Suid-Afrika en sal volgende week voor die likwidateurs verskyn.
En laastens is daar ook nuus oor die kabinetskommeling.
GAUTENG:
# The Star:
Berig oor die minister van Finansies, Enoch Godongwana wat aangekondig het dat daar ‘n styging was in die belasting wat ingevorder is.
En tweedens vra die koerant of Thabo Mbeki of Kgalema Motlanthe ‘n terugkeer kan maak as president van die ANC.
# Sowetan:
Berig ‘n onderwyser van die Boksburg Hoërskool wat vroeër vir beweerde seksuele aanranding afgedank is, is terug by die skool sonder dat die skoolbeheerliggaam geken is. Ouers en leerders het gister buite die skool betoog.
# En The Citizen:
Skryf die Stad Johannesburg is besig om sy rekeninge-oorlog te verloor. Die stad is besig om talle hofsake oor waardasie en rekenings te verloor, maar weier om inligting hieroor openbaar te maak.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die Bougas-egpaar wat terug is in die land.
En berig tweedens die rede hoekom Suid-Afrika se voormalige Amerikaanse ambassadeur, Ebrahim Rasool nie meer die voorsitter van die ANC se taakspan in die Wes-Kaap kan wees nie, is ‘n internasionale kontrak wat sy tyd in beslag gaan neem.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig die AbaThembu-koning Buyelekhaya Dalindyebo is tuis nadat hy vier jaar tronkstraf uitgedien het vir ontvoering, aanranding, brandstigting, regsverydeling en strafbare manslag. Die AbaThembu-koninklike familie het bevestig dat hy Sondagaand uit die Oos-Londense Korrektiewe Sentrum vrygelaat is.
En tweedens skryf die koerant die meeste Oos-Kaapse metro’s is oor die kole gehaal vir swak finansiële bestuur.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging het ‘n beroep gedoen op ‘n meer inklusiewe en strategiese benadering tot die aanpak van KwaZulu-Natalse gesondheidsorguitdagings. Dit volg op die Nasionale Tesourie se toekenning van 1,3-miljard-rand.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n politieke ontleder sê as nuwe partye of verenigings nie resultate lewer nie, sal kiesers wegbly van die stembus of stem vir die partye wat hulle ken.
En tweedens skryf die koerant ’n weduwee dagvaar die Gesondheidsminister, die Namibië Instituut vir Patologie en ’n Suid-Afrikaanse laboratorium vir skadevergoeding oor die beweerde nalatige hantering van haar oorlede man se nadoodse ondersoek en laboratoriumverslae.