Nuus 16:00
BULLETIN 12 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Godongwana kondig ‘n nuwe inflasieteiken aan
# Agt mense word geskiet op ‘n taxi-staanplek in Kaapstad
# En krieket: Die spel-orde word verander vir die tweede toets tussen Suid-Afrika en Indië
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het ‘n nuwe inflasieteiken van drie-persent aangekondig, met ‘n eenpunt-speling. Hy het in sy vyfde mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring in die Parlement voorspel die land se ekonomie sal vanjaar met 1,2 persent groei, meer as dubbel die groei wat verlede jaar gesien is, en verwag ‘n gemiddelde groei van 1,8-persent tussen 2026 en ’27. Godongwana sê staatskuld sal bestendig bly op 77,9-persent van die bruto binnelandse produk, die eerste keer sedert 2008:
Godongwana spoor ook die regering aan om sy stryd teen geldwassery en die finansiering van terrorisme voort te sit sodat die land van die Finansiële Aksietaakmag se gryslys kan bly. Hy het tydens sy begrotingsrede sleutelwetsontwerpe voorgelê, insluitend die Wysigingswetsontwerpe op die Verdeling van Inkomste en die Wysigingswetsontwerpe op Belastingwette. Godongwana sê volgehoue waaksaamheid is noodsaaklik om die land se finansiële geloofwaardigheid te beskerm, beleggings te lok, en ekonomiese groei te steun:
# Agt mense is geskiet tydens ‘n gewelddadige voorval op die Nyanga-taxistaanplek in Sithandatu-straat in Kaapstad. Twee slagoffers is op die toneel dood en die ander is hospitaal toe gehaas, waar sommige in ‘n bedenklike toestand is. Dit is onduidelik of die voorval verband hou met taxi-geweld, terwyl die motief nog ondersoek word. Die polisie het mense met inligting gevra om hulle naaste polisiekantoor te kontak.
# Ekurhuleni se voormalige direkteur vir Werknemer-verhoudinge, Xolani Nciza, het aan die Madlanga-kommissie gesê die ooreenkoms van verstandhouding tussen die stad, Medicare en CAT-BBP-beskermingsdienste word ernstig bevraagteken. Nciza sê munisipaliteite moet voldoen aan streng wetsraamwerke en sulke ooreenkomste vereis formele verslae, interne goedkeuring en raadsbesluite. Hy betoog die ooreenkoms het nie sulke magtigings ontvang nie, wat dit ongerymd en moontlik onwettig maak binne munisipale bestuursprosedures:
# Krieket: Die spelorde is verander vir die tweede toets tussen Suid-Afrika en Indië vanweë die vroeë sonsondergange in Guwahati. Dit word reeds omtrent vier-uur middae donker in dié stad in die verre noordooste. Spel sal negeuur die oggend plaaslike tyd begin – 5:30 soggens in Suid-Afrika – ‘n halfuur vroeër as gewoonlik, en teetyd sal voor middagete geneem word. Die teetyd van 20-minute sal na twee uur geneem word en middagete twee uur daarna. Die eerste toets begin Vrydag in Kolkata.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-5-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 22-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-889-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-134-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….