Nuus 15:00
BULLETIN 12 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Godongwana vra ‘n voortgesette stryd teen geldwassery en die finansiering van terreur
# Die geregtelike ondersoek na Steve Biko se dood heropen na 48 jaar
# En, die spel-orde word aangepas vir die tweede kriekettoets tussen Suid-Afrika en Indië
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, spoor die regering aan om sy stryd teen geldwassery en die finansiering van terrorisme voort te sit sodat die land van die Finansiële Aksietaakmag se gryslys kan bly. Hy het sy vyfde mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring in die Parlement gelewer, en sleutelwetsontwerpe voorgelê, insluitend die Wysigingswetsontwerpe op die Verdeling van Inkomste en die Wysigingswetsontwerpe op Belastingwette. Godongwana sê volgehoue waaksaamheid is noodsaaklik om die land se finansiële geloofwaardigheid te beskerm, beleggings te lok, en ekonomiese groei te steun:
# ‘n Geregtelike ondersoek na die dood van die anti-apartheidsleier Steve Biko is vandag in die Hooggeregshof in Gqeberha heropen – 48 jaar na sy dood in polisie-aanhouding. Die Nasionale Vervolgingsgesag het goedkeuring van die minister van Justisie en Konstitusionele Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, bekom na nuwe getuienis van die Waarheids- en Versoeningskommissie. Dit het onthul dat voormalige polisielede Biko moontlik aangerand het voor sy dood in 1977. Die NVG sê die heropende ondersoek het ten doel om strafregtelike aanspreeklikheid te bepaal en langverwagte geregtigheid vir Biko se familie te bring.
# Die Departement van Water en Sanitasie het sy verbintenis herbevestig tot die versnelling van billike en volhoubare toegang tot water- en sanitasiedienste reg oor Suid-Afrika. Die AWSISA Afrika en Globale Suide Water- en Sanitasie-dialoog eindig vandag in Johannesburg. Die departement se woordvoerder, Wisane Mavasa, sê Suid-Afrika werk steeds ten nouste saam met Afrika-regerings, streeksliggame en strategiese globale vennote om die Afrika-Watervisie 2063 te bevorder. Sy sê dit streef na ‘n voorspoedige en waterveilige vasteland waar water billik en volhoubaar bestuur word:
# Krieket: Die spelorde is verander vir die tweede toets tussen Suid-Afrika en Indië vanweë die vroeë sonsondergange in Guwahati. Dit word reeds omtrent vier-uur middae donker in dié stad in die verre noordooste. Spel sal negeuur die oggend plaaslike tyd begin – 5:30 soggens in Suid-Afrika – ‘n halfuur vroeër as gewoonlik, en teetyd sal voor middagete geneem word. Die teetyd van 20-minute sal na twee uur geneem word en middagete twee uur daarna. Die eerste toets begin Vrydag in Kolkata.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 22-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-884-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-127-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-44-sent per vat.
# En ten slotte: Die geskiedkundige Mellon Blue-diamant is vir sowat 439-miljoen-rand verkoop op Christie’s se veiling in Genève. Die pragtige helderblou steen van 9,51-karaat is vernoem na die bekende kunsbeskermvrou, wyle Rachel “Bunny” Mellon. Die peervormige diamant was die ster-item op die Magnificent Jewels-veiling in die Switserse stad. Hoewel die prys ooreenkom met die voorgestelde veilingsbedrag, bevestig dit die groot elite-aanvraag na buitengewoon gekleurde edelstene. Dit was Christie’s se derde hoogste veilingsprys ooit vir ‘n helderblou diamant.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….