Nuus 14:00
BULLETIN 12 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die geregtelike ondersoek na Steve Biko se dood heropen na 48 jaar
# Krieket: Hazlewood is fiks vir die begin van die reeks om die As
# En die bekende mode-ontwerper Henja Schaap sterf
# ‘n Geregtelike ondersoek na die dood van die anti-apartheidsleier Steve Biko is vandag in die Hooggeregshof in Gqeberha heropen – 48 jaar na sy dood in polisie-aanhouding. Die Nasionale Vervolgingsgesag het goedkeuring van die minister van Justisie en Konstitusionele Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, bekom na nuwe getuienis van die Waarheids- en Versoeningskommissie. Dit het onthul dat voormalige polisielede Biko moontlik aangerand het voor sy dood in 1977. Die NVG sê die heropende ondersoek het ten doel om strafregtelike aanspreeklikheid te bepaal en langverwagte geregtigheid vir Biko se familie te bring.
# Die Activists and Citizens Forum vra die polisie en die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings om die adjunkhoof van Ekurhuleni se metropolisie, Julius Mkhwanazi, in hegtenis te neem en strafregtelik aan te kla. Hy is gister geskors. Mkhwanazi is betrek by die Madlanga-kommissie wat polisie-korrupsie ondersoek, en daar is beweer hy het die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala gehelp om die metropolisie te infiltreer. Dennis Bloem van die forum sê Mkhwanazi is ‘n misdadiger in polisie-uniform:
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê cholera-uitbrekings in Afrika neem toe en val saam met herhaalde tekorte aan cholera-entstowwe. Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte het aan Biovac toestemming gegee om met kliniese proewe vir sy mondelikse cholera-entstof te begin. Die Afrika-unie se teiken is dat 60-persent van alle roetine-entstowwe wat in Afrika gebruik word, teen 2030 op die vasteland vervaardig moet word. Motsoaledi sê die regering wil universele toegang tot noodsaaklike medisyne verseker:
# Krieket: Die Australiese snelbouler Josh Hazlewood is na ‘n besering fiks verklaar vir die eerste toets om die As teen Engeland, maar Sean Abbott is uitgesluit. Hazlewood en Abbott is albei vir mediese skanderings gestuur nadat hulle beserings opgedoen het op die derde dag van Nieu-Suid-Wallis se Sheffieldskild-wedstryd teen Victoria in Sydney. Krieket Australië sê Hazlewood se verrekte spier het genees, maar Abbott sukkel met ‘n matige agterkniesening-besering. Die eerste toets begin volgende Vrydag in Perth.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 22-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-828-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-125-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-39-sent per vat.
# En om mee af te sluit, die bekende Suid-Afrikaanse modeontwerper Henja Schaap se dood is op sosiale media aangekondig. Geen oorsaak is gegee nie. Schaap was veral bekend vir sy ontwerperstrourokke, hoewel hy mode vir vroue sowel as mans geskep het. Die musiekpromotor Ferdi Steyn het gereageer deur hom te bedank vir al die klere wat hy oor die jare vir hom en ander kunstenaars ontwerp het, terwyl die voormalige Mnr Suid-Afrika en fiksheidsmodel John Owens sê hy sal Schaap se stemboodskappe en grappies mis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….