Nuus 13:00
BULLETIN 12 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Sibiya-medewerker Scharnick voer aan hy ken die hoof van Misdaadintelligensie al drie jaar
# Die Wes-Kaapse werkloosheidskoers daal tot minder as 20-persent
# En Steenhuisen sê die regering versterk Suid-Afrika se byeboerdery
# Die veroordeelde misdadiger en vriend van die geskorste nasionale adjunk-polisiekommissaris Shadrack Sibiya, Stuart Scharnick, sê hy ken die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, al drie jaar. Scharnick het vanoggend ‘n lastersaak teen Khumalo by die Pretoria Sentraal-polisiestasie aanhangig gemaak. Hy het Khumalo tydens ‘n onderhoud met Newzroom Afrika daarvan beskuldig dat hy onder eed gelieg het voor die Madlanga-kommissie, en sê die vals bewerings het sy gesin in gevaar gestel en onherstelbare skade aan sy naam veroorsaak:
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê volgens die jongste kwartaallikse arbeidsmagopname werk die provinsie se Groei vir Werksgeleenthede-strategie. Die provinsie se werkloosheidskoers het in die derde kwartaal afgeneem tot 19,7-persent teenoor die tweede kwartaal se 21,1-persent. Winde sê 65-duisend werksgeleenthede is bygevoeg, maar nog werk moet gedoen word:
# Die toonaangewende Chinese motorvervaardiger BAIC kan reeds in Januarie sy nuwe B30-veldren-nutsvoertuig begin monteer in sy fabriek in Gqeberha in die Oos-Kaap. Die finansiële hoof, Anele Geza, het aan Reuters gesê die model met ‘n brandstofenjin asook hibriede modelle sal met behulp van ‘n afgeskaalde produksieproses aanmekaargesit word. Dit gebruik baie klein onderdele om voertuie te monteer, met verhoogde plaaslike inhoud. Multinasionale motorvervaardigers, insluitend Toyota en Ford, het gepleit vir verhoogde plaaslike produksie deur nuwelinge ten einde die plaaslike motorbedryf te beveilig en plaaslike inhoud te verhoog.
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het die regering se verbintenis herbevestig tot die versterking van Suid-Afrika se byebedryf. Bestuiwing dra jaarliks meer as tien-miljard-rand tot Suid-Afrikaanse landbou by. Die land produseer jaarliks tot twee-duisend-500 ton heuning, maar verbruik byna dubbel soveel, en is sterk afhanklik van hoofsaaklik Chinese invoere. Steenhuisen sê byeboerdery is ‘n belangrike bydraer tot die land se landbousektor as gevolg van sy bydrae tot voedselsekerheid, inkomsteskepping en ekonomiese ontwikkeling:
# Sokker: Suid-Afrika se Amajimbos word geteister deur beserings voor Saterdag se wedstryd teen Japan in die laaste 32 van die Onder-17 Wêreldbekertoernooi in Katar. Dit is die eerste keer dat Suid-Afrika die uitklopfase van die toernooi haal. Afrigter Vela Khumalo is bekommerd oor die gebrek aan verdedigers weens die beserings, wat hom dwing om voortdurend die span te verander. Hy hoop dat sommige van die beseerdes betyds fiks sal wees. Khumalo is nietemin baie trots op sy spelers dat hulle so ver gekom het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 22-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-761-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-125-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….