Nuus 07:00
BULLETIN 11 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê Suid-Afrika se wateruitdagings vereis groter beleggings in infrastruktuur
# AfriForum kritiseer die uitstel van die Khampepe-kommissie
# En krieket: Kass Naidoo sê Suid-Afrika het ‘n vroueliga nodig om bekers te wen
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê Suid-Afrika staar ‘n waterkrisis in die gesig wat vererger word deur klimaatsverandering, verouderende infrastruktuur, maatskaplik-ekonomiese ongelykheid en swak munisipale bestuur. Hy het gister die Suid-Afrikaanse vereniging van water- en sanitasie-instellings toegespreek. Mashatile sê verouderde infrastruktuur veroorsaak dat 40- tot 50-persent water in sommige gebiede geen inkomste lewer nie weens lekplekke, ondoeltreffende bestuur en onwettige verbindings:
# AfriForum het sy teleurstelling uitgespreek nadat die eerste sitting van die Khampepe-kommissie tot 26 November uitgestel is. Die kommissie wat gister in Pretoria sou begin, is in die lewe geroep om vertragings te ondersoek in die vervolging van misdade wat deur die Waarheids- en Versoeningskommissie geïdentifiseer is. Kallie Kriel van AfriForum sê families van slagoffers, verdien antwoorde, net soos die Cradock-vier. Kriel doen ‘n beroep op die kommissie om politieke inmenging te ondersoek wat die vervolging van senior ANC-lede verhoed het:
# ‘n Nuwe studie deur die Instituut vir Rasseverhoudinge toon dat 92-persent van Suid-Afrikaners wil hê dat nasionale sportspanne op meriete, en nie volgens ras nie, gekies moet word. Steun strek oor alle gemeenskappe, met 92-persent swart, 92-persent gekleurde, 86-persent Indiërs en 93-persent wit respondente. Die kommunikasiehoof van die IRR, Hermann Pretorius sê die bevindinge toon dat landsburgers wil hê talent en prestasie, nie rasse-kwotas nie, moet keuring bepaal. Die volledige verslag sal op 26 November vrygestel word.
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê hulle het die strategie teen bendegeweld hersien. Hy het gister ʼn hoëvlak-afvaardiging van die polisie na Westbury en Reigerpark gelei. Sewe tieners is verlede maand in Westbury geskiet en twee is dood toe gewapende mans op ʼn vermeende dwelmhuis losgebrand het. Vroeër die maand is ses mense in Reigerpark in ʼn vermeende bendeverwante skietery dood. Cachalia sê die regering het fondse toegewys vir die instelling van die strategie:
# Die BBC-voorsitter Samir Shah het ʼn verskoning uitgereik nadat ʼn toespraak van president Donald Trump van Amerika geredigeer is in ʼn episode van Panorama, en noem dit ʼn oordeelsfout. Die program het Trump se toespraak so geredigeer dat dit lyk asof hy ondersteuners op 6 Januarie 2021 direk aanhits tot geweld in die Kongresgebou. Die BBC se direkteur-generaal, Tim Davie, en uitvoerende nuushoof, Deborah Turness, het bedank. Shah ontken bewerings van sistemiese vooroordeel:
# Krieket: Die bekende kommentator Kass Naidoo glo Suid-Afrika het ‘n vroueliga nodig om voort te bou op die sukses van die Proteas-vrouespan wat aan die eendagwêreldbeker in Indië deelgeneem het. Hulle het eers in die eindstryd voor die gasvroue geswig nadat hulle reg deur die toernooi beïndruk het. Naidoo is veral trots op Suid-Afrika se oortuigende oorwinning oor Engeland in die halfrondte. Sy sê die meeste van Indië se vroue speel in die Vroue-Premierliga en Suid-Afrika het ‘n soortgelyke kompetisie nodig vir die land se vroue om die silwerware huis toe te bring.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 22-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-584-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-135-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….