Nuus 11:00
BULLETIN 9 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# GOOD sê Donald Trump se besluit om nie G20-beraad by te woon nie, is gebaseer op ‘n disinformasieveldtog teen Suid-Afrika
# ActionSA onthul die regering laat steeds plundering van die staatskas toe
# En motorsport, Lando Norris spring voor weg in die Sao Paulo Grand Prix
# Die GOOD Party sê dis ‘n jammerte dat die Amerikaanse president Donald Trump aangekondig het dat hy nie by die G20-leiersberaad verteenwoordig sal wees wanneer Suid-Afrika die presidentskap van die G20 aan die Verenigde State oorhandig nie. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê dit lyk asof Trump hierdie besluit geneem het op grond van die disinformasieveldtog wat onder andere deur Suid-Afrikaners teen die land gevoer word:
# ActionSA het na amptelike parlementêre antwoorde deur die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, onthul dat die regering in die nasleep van die Tembisa-hospitaal korrupsieskandaal, steeds die plundering van die staatskas toelaat. ActionSA-woordvoerder, Matthew George, sê die Spesiale Ondersoekeenheid se tussentydse verslag het getoon meer as twee-miljard-rand se bedrog is by die Tembisa-hospitaal gepleeg, deur 207 diensverskaffers met meer as vierduisend-500 bestellings. Hy sê Suid-Afrika se verkrygingstelsel is wyd oop vir uitbuiting deur bedrieglike maatskappye:
# AfriForum sê Gauteng se aanlyn skoolplasingstelsel laat honderde ouers in die duister oor waar hul kinders volgende jaar skool sal bywoon. Volgens die organisasie rapporteer ouers in Johannesburg, Pretoria en Centurion verkeerde of ontbrekende plasings, met min ondersteuning deur die provinsiale Onderwysdepartement. Carien Bloem van AfriForum doen ‘n beroep vir duidelike en vinnige kommunikasie aan ouers oor skoolplasings:
# Die Brandweerdienste van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap het bevestig die veldbrand in die Kogmanskloof-gebied bokant Ashton en Montagu is steeds aktief . Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê die brand woed steeds in ‘n gebroke lyn langs die bergspitse en beweeg soms na meer toeganklike gebiede. Sy sê die Brandweerdienste en sy vennote CapeNature sal die volgende 24 uur met aktiewe brandbestryding voortgaan:
# Die Polisie het Vrydag drie jong vroue uit Botswana by die OR Tambo Internasionale Lughawe in Kempton Park, Ekurhuleni, gered. Polisiewoordvoerder, Amanda van Wyk, sê die slagoffers van tussen 20 en 23, is na bewering deur ‘n sindikaat op sosiale media gelok, onder die valse voorwendsel van werksgeleenthede in Sierra Leone:
# En ten slotte motorsport, Lando Norris oorheers steeds die Formule-een-kampioenskap en is in die voorste wegspringplek vir McLaren, na gister se spannende kwalifiseringsessie vir die Sao Paulo Grand Prix. Die 25-jarige Brit is nou weer voor in die renjaerskampioenskap na sy oorwinning in Mexiko twee weke gelede. Red Bull se viermalige kampioen, Max Verstappen, is in die eerste kwalifiseringsessie uitgeskakel en die sewemalige kampioen Lewis Hamilton van Ferrari in die tweede. Die Italiaanse tiener-groentjie Kimi Antonelli van Mercedes is saam met Norris in die voorste ry. Sy McLaren-spanmaat en titelmededinger Oscar Piastri spring vierde weg, agter Charles Leclerc van Ferrari.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….