Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 7 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens krieket: Die Protea-vroue se kaptein, Laura Wolvaardt, se uitstekende vertoning tydens die Wêreldbekertoernooi in Indië het haar bo-aan die ranglys van eendagkolwers geplaas. Sy het honderdtalle aangeteken in die halfeindstryd teen Engeland en die eindstryd teen die gasvroue, wat Suid-Afrika met 52 lopies verloor het. Wolvaardt het altesaam 571 lopies in die toernooi gemoker – die meeste in ‘n enkele toernooi. Sy het daarmee vir Smriti Mandhana van Indië verbygesteek. Ash Gardner van Australië is derde, die Engelse kaptein Nat Sciver-Brunt vierde, en Beth Mooney, ook van Australië, vyfde.
Quinton de Kock het Suid-Afrika se mans intussen met ‘n honderdtal gelei na ‘n oorwinning met agt paaltjies oor Pakistan in die tweede eendagwedstryd in Faisalabad om die reeks gelykop te maak. Nandré Burger het vier paaltjies geneem en Pakistan is beperk tot 269 vir nege. Lhuan-dré Pretorius en De Kock het daarna ‘n aanvangsvennootskap van 98 lopies gedeel, gevolg deur De Kock en Tony de Zorzi se tweedepaaltjie-vennootskap van 153 lopies. Suid-Afrika het die teiken bereik met 59 balle oor. Die laaste eendagwedstryd is môre.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê keurders het die beste span gekies vir môre se kragmeting met Frankryk in Parys. Daar is ses veranderinge aangebring aan die span wat Japan verlede naweek op Wembley verslaan het. Boan Venter vervang die beseerde Ox Nché op loskopstut, terwyl Thomas du Toit, Eben Etzebeth, Pieter-Steph du Toit en Damian Willemse almal na die opdrafspan terugkeer. RG Snyman is op die bank. Erasmus sê hulle maak gereed vir ‘n taai wedstryd:
# Sokker: Suid-Afrika en Katar se tweede wedstryd in die Onder-17-Wêreldbekertoernooi in Doha het met een-elk gelykop geëindig. Yazan Mohamed het die gashere laat voorloop. Die speler van die wedstryd, Emile Witbooi, het die gelykmaker in die 16de minuut aangeteken om Suid-Afrika se vordering na die uitkloprondes moontlik te hou. Amajimbos is nou met vier punte tweede in Groep A ná hul oorwinning oor Bolivië. Drie spanne het hul plek in die uitkloprondes verseker: Argentinië, Italië en Portugal.
# En ten slotte, motorsport: McLaren se Australiese renjaer, Oscar Piastri, glo steeds hy kan die Formule Een-bestuurders-kampioenskap wen. Hy het ses maande lank voorgeloop voor sy Britse spanmaat, Lando Norris, hom verlede maand verbygesteek het toe hy die Mexikaanse Grand Prix gewen het. Piastri is nou een punt agter, met Red Bull se verdedigende kampioen, die Nederlander Max Verstappen, net 35 punte agter. Dit beteken hierdie naweek se Brasiliaanse Grand Prix is uiters belangrik. Piastri hou vol hy kan steeds wen:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….