Nuus 16:00
BULLETIN 6 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Angelo Agrizzi spring tronkstraf vry in die BOSASA-korrupsiesaak
# Die GOOD-party sê die toenemende moorde beklemtoon Kaapstad se wetstoepassingskrisis
# En sokker: Cristiano Ronaldo beplan om binnekort uit te tree
# Bosasa se voormalige bedryfshoof, Angelo Agrizzi, is na ‘n pleit-ooreenkoms tot tien jaar tronkstraf gevonnis, wat weens sy gesondheid in sy geheel vir vyf jaar opgeskort is. Hy het in die Hooggeregshof in Pretoria tereggestaan op aanklagte wat verband hou met ‘n korrupsie- en geldwassery-saak van 1,8-miljard-rand vir die betaling van omkoopgeld aan regeringsamptenare in ruil vir winsgewende kontrakte. Ingevolge die ooreenkoms moet Agrizzi ten volle met ondersoeke saamwerk en in Bosasa-verwante sake getuig. Regter Papi Mosopa het gewaarsku versuim om hieraan te voldoen, sal tot onmiddellike gevangenisstraf lei.
# Die GOOD-party sê die aantal mense wat sedert verlede maand se bekendstelling van die Veiliger Feestyd-bedrywighede in skietvoorvalle in Kaapstad dood is, het skerp toegeneem. Die afgelope twee weke is sowat 40 sterftes aangemeld wat hoofsaaklik met bendebedrywighede verband hou. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die beginsel van die Veiliger Feestyd-program is goed, maar ‘n groot deel van die probleem is dat misdaad verpolitiseer word:
# Vodacom het Kenneth Nkosana Makate moontlik tussen 353- en 748-miljoen rand betaal in ‘n skikking oor sy “Please Call Me”-uitvinding. Die bedrag word beraam volgens die uitwerking wat die skikking op Vodacom se verwagte verdienste vir sy tussentydse finansiële jaar gehad het wat op 30 September geëindig het. Die selfoon-netwerk het gister aangekondig dat die saak ná ‘n hofstryd van 17-jaar buite die hof geskik is. Vodacom het ook gesê die vertroulike skikking is in sy tussentydse uitslae verreken wat hy Maandag moet uitreik.
# Sokker: Die vyfmalige Ballon d’Or-wenner, Cristiano Ronaldo, oorweeg dit om binnekort uit te tree. Die 40-jarige speler van Al Nassr is die voorste doelskieter van alle tye met altesaam 952 vir klub en land. Hy het verlede maand gesê hy mik na duisend doele voordat hy die spel vaarwel roep. Ronaldo het op ‘n vraag wanneer hy sy stewels gaan ophang, net gesê “binnekort”. Hy erken dit sal moeilik wees om sy glinsterende loopbaan te beëindig, maar hy beplan al lank aan sy lewe ná sokker.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-37-sent teen die dollar, 20-rand teen die euro en 22-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-644-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-agt-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-85-sent per vat.
# En, ter afsluiting: President Cyril Ramaphosa het vroueleiers wêreldwyd gevra om kennis oor die opheffing van kwesbare gemeenskappe te deel. Hy het die Internasionale Vroueforum se konferensie in Kaapstad toegespreek. Ramaphosa sê kennis vermenigvuldig wanneer dit gedeel word, wat ander bemagtig om te lei en hul stem te laat hoor. Hy het beklemtoon wanneer vroue saam lei, hulle instellings hervorm en gemeenskappe van binne herbou, wat blywende globale verandering aandryf. Ramaphosa het gevra vir optrede teen geslagsgeweld:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….