Nuus 12:00
BULLETIN 6 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie beoog om sy tussentydse verslag teen die einde van die jaar te oorhandig
# Die dodetal weens tifoon Kalmaegi in die Filippyne styg tot 114
# En tennis: Die 45-jarige Venus Williams speel in Januarie in die Auckland-ope
# Die Madlanga-kommissie wat polisie-korrupsie ondersoek, wil voor die einde van vanjaar ‘n tussentydse verslag aan president Cyril Ramaphosa lewer, hoewel die datums onseker is weens nuwe bewyse wat daagliks na vore kom. Die kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels, het in ‘n onderhoud met die SABC gesê ondersoekbeamptes en regspanne werk onverpoosd om nuwe inligting en bewerings te verwerk. Hy het bevestig voorbereidings vir fase twee van die verhore is aan die gang en dit behoort binnekort te begin:
# Eskom is bekommerd oor voortgesette waninligting oor sy stelselprestasie en dieselverbruik. Hy herhaal dat hy elke Vrydag deursigtige, datagebaseerde inligting oor sy bedrywighede gee. Die kragverskaffer word gedwing om miljarde rand se diesel te gebruik omdat sy opwekkingsvloot nie betroubaar genoeg is om voldoende krag op te wek nie. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê diesel word steeds strategies gebruik, met oopsiklus-gasturbines wat ‘n integrale deel van die opwekkingsvloot uitmaak:
# Die Departement van Indiensneming en Arbeid sê hy het deur die Vergoedingsfonds 68 eise ontvang wat verband hou met die gebou-ramp in George. Vyftien is van Suid-Afrikaners en 53 van buitelandse burgers. Vier-en-dertig bouwerkers is in Mei verlede jaar dood toe ‘n vyfverdiepinggebou in aanbou ingetuimel het. Die departement sê die naasbestaandes van 28 van die 34 slagoffers het eise ingedien. Hy sê dis weens gebrekkige dokumentasie moeilik om sommige van die eise te verwerk.
Nuus uit die buiteland:
# Die dodetal weens die tifoon Kalmaegi in die Filippynse Eilande het tot 114 gestyg, terwyl 127 mense vermis word. Die storm wat verwoesting gesaai het in die sentrale deel van die eilande, het weer opgebou en beweeg nou na Viëtnam. Sowat 350-duisend mense sal teen vanmiddag uit dié land se Gia Lai-provinsie ontruim word. Owerhede waarsku oor swaar reën en skadelike wind wat oorstromings in laagliggende gebiede kan veroorsaak en landboubedrywighede kan ontwrig.
# Tennis: Die 45-jarige Venus Williams speel in Januarie in die Auckland-ope in Nieu-Seeland. Die voormalige wêreld-nommer-een en sewemalige Grand Slam-kampioen het as promotorskeuse toegang gekry tot die toernooi, wat van die vyfde tot die elfde plaasvind. Dit word gebruik as opwarming vir die Australiese Ope, wat die volgende dag in Melbourne begin. Auckland se toernooidirekteur, Nicolas Lamperin, sê Williams is een van die beste spelers van die moderne era en haar spelpeil is tans uitstekend.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-36 sent teen die dollar, 19-rand-98-sent teen die euro en 22-rand-68 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-254 dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-15 dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-63-per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….