Nuus 11:00
BULLETIN 6 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering word gevra om 17 Suid-Afrikaanse mans te help wat in Oekraïne vasgekeer is
# Die Departement van Arbeid ontvang 68 vergoedingseise na die gebou-instorting in George
# En Amerika oorweeg 10-persent minder vlugte na 40 groot lughawens weens die regerings-afsluiting
# Die regering sê hy het noodoproepe ontvang om 17 Suid-Afrikaanse mans te help om terug te keer huis toe nadat hulle in die oorloggeteisterde Donbas-streek in Oekraïne vasgekeer is. Die mans, tussen 20 en 39 jaar, is met lonende kontrakte gelok om by huursoldaatmagte in die Oekraïns/Russiese konflik aan te sluit. Sestien van die mans is van KwaZulu-Natal en die ander een van die Oos-Kaap. President Cyril Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die regering veroordeel die uitbuiting van jong, kwesbare mense:
# ActionSA het onthul dat die regering van nasionale eenheid se oorgroot kabinet van 32 ministers en 43 adjunkministers, belastingbetalers elke jaar na raming 603-miljoen-rand kos. Athol Trollip van die party sê elke minister kos jaarliks sowat 8,9-miljoen-rand, terwyl elke adjunkminister 7,4-miljoen kos, insluitend salarisse en personeel. Trollip sê ActionSA glo dat hierdie syfers verkwistende besteding blootlê terwyl miljoene Suid-Afrikaners daagliks sukkel:
# Die Departement van Indiensneming en Arbeid sê hy het deur die Vergoedingsfonds 68 eise ontvang wat verband hou met die gebou-ramp in George. Vyftien is van Suid-Afrikaners en 53 van buitelandse burgers. Vier-en-dertig bouwerkers is in Mei verlede jaar dood toe ‘n vyfverdiepinggebou in aanbou ingetuimel het. Die departement sê die naasbestaandes van 28 van die 34 slagoffers het eise ingedien. Hy sê dis weens gebrekkige dokumentasie moeilik om sommige van die eise te verwerk.
Nuus uit die buiteland:
# Amerika se minister van Vervoer, Sean Duffy, sê die Federale Lugvaartadministrasie gaan die vlug-vermoë na 40 belangrike lughawens reg oor die land met 10-persent verminder. Dis weens die regerings-afsluiting wat personeeltekorte in lugverkeerbeheer veroorsaak. Die beperking tree môre in werking. Die kansellasies kan daagliks tussen drie-duisend-500 en vier-duisend vlugte raak. Duffy sê hulle het die besluit geneem om veiligheid en doeltreffendheid te handhaaf:
# Rugby: Die SA Vrouespeler van die jaar, Nadine Roos, is onder die groep van 18 spelers wat genooi is om die Springbokvrouesewes-opleidingskamp in Pretoria by te woon. Van die ander genooides sluit in Zintle Mpupha, Byrhandrè Dolf en Ayanda Malinga. Die kamp is deel van die voorbereiding vir die Afrika Vroueseweskampioenskap volgende week in Kenia. Suid-Afrika sal in Groep A teen Zambië, Ghana en Egipte speel waar die top-twee op koers sal wees vir deelname aan 2026 se Rugbysewes-wêrelduitdaagreeks.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-38 sent teen die dollar, 20-rand teen die euro en 22-rand-69 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-222 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-996 dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-75-per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….