Nuus 12:00
BULLETIN 5 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Activists and Citizens Forum eis die adjunkkommissaris van polisie se lyfwag moet aangekeer word
# Die Wes-Kaap ondersoek ‘n vermeende bek-en-klouseer-geval weens die verskuiwing van beeste
# En rugby: Tadhg Beirne se omstrede rooikaart teen die All Blacks word gekanselleer
# Die Activists and Citizens Forum vra die onmiddellike inhegtenisneming van die lyfwag van die geskorste adjunk-nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya. Die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, het voor die Madlanga-kommissie getuig Stuart Scharnick se rekords toon 34 strafregtelike sake. Hy is aan 18 skuldig bevind, elf is teruggetrek en hy is aan vyf onskuldig bevind. Dennis Bloem van die forum sê Scharnick is ‘n gevaar vir die samelewing:
# Die MK-party het die gewese minister van Finansies, Des van Rooyen, aangestel as sy nuwe hoofsweep in die Parlement. Hy neem oor by Colleen Makhubele, wat in Mei vanjaar in die posisie aangestel is. Die MK-party beskryf Van Rooyen as ‘n ervare kader van die bevrydingsbeweging met uitgebreide akademiese, politieke en regeringservaring. Die party sê hy het volle vertroue dat die koukus onder Van Rooyen versterk, gedissiplineerd en meer strategies sal wees.
# Die afdeling Veeartsenydienste van die Wes-Kaapse Departement van Landbou het ‘n eiendom in Gouda onder kwarantyn geplaas. Dit volg nadat ‘n boer van die Vrystaat vermoedelike letsels van bek-en-klouseer aangemeld het van beeste wat onlangs uit die Gouda-gebied daarheen vervoer is. Die departement se woordvoerder, Mary James, sê veeartse het tydens die inspeksie seerplekke in die beeste se bekke waargeneem het. Sy sê monsters is geneem en vir laboratoriumtoetse gestuur om te bepaal of dit wel bek-en-klouseer is.
Nuus uit die buiteland:
# Die dodetal na die vliegongeluk naby die Louisville Muhammad Ali Internasionale Lughawe in Kentucky, Amerika, het tot sewe gestyg. Elf mense is ernstig beseer. Die vragvliegtuig van UPS was onderweg na Honolulu in Hawaii toe dit gisteraand kort na opstyging neergestort het. Kentucky se goewerneur, Andy Beshear, sê drie bemanningslede is vermoedelik dood terwyl vier slagoffers wie se dood bevestig is, nie op die vliegtuig was nie. Hy sê twee groot sakeondernemings is getref:
# Rugby: Die Ierse slot Tadhg Beirne se omstrede rooikaart in die toets teen Nieu-Seeland in Chicago die afgelope naweek is herroep. Die 33-jarige het ‘n geelkaart gekry toe hy en Beauden Barrett mekaar getref het. Die vuilspel-hersieningsbeampte, Dan Jones, het dit daarna na rooi opgeskuif. ‘n Onafhanklike tugkomitee het Beirne se voorlegging aanvaar dat dit wel vuilspel was, maar nie die rooikaart-drempel bereik het nie. Hy sal beskikbaar wees om Saterdag in Dublin teen Japan te speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-46-sent teen die dollar, 20-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-377-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-980-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….