Nuus 08:00
BULLETIN 5 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vergadering keur die Eenstop-grensposwetsontwerp goed
# Die kajuitpersoneel by FlySafair wil staak na ‘n dooiepunt oor lone
# En die Gautengse Onderwysdepartement waarsku teen bedrieërs wat plasings aanbied vir volgende jaar
# Die Nasionale Vergadering het die portefeuljekomitee oor Binnelandse Sake se verslag oor die Wetsontwerp op Eenstop-grensposte aanvaar. Die wetsontwerp stel ‘n regsraamwerk voor om gedeelde grensposte tussen Suid-Afrika en sy buurlande te skep. Die komiteevoorsitter, Mosa Chabane, sê sodra die wetsontwerp bekragtig is, sal dit na verwagting intra-Afrikahandel en -belegging bevorder met groter doeltreffendheid by grensposte, makliker beweging van mense en goedere, en die versterking van ekonomiese samewerking:
# Die Suid-Afrikaanse Kajuitbemanningsvereniging sê hy gaan die KVBA nader vir ʼn sertifikaat om by FlySafair te staak. Dit volg nadat die lugredery besluit het om bemanningslede uit te sluit oor ʼn salarisgeskil. Die vereniging sê hy was gewillig om die voorgestelde vierjaar-ooreenkoms, wat ʼn salarisverhoging van 5,7-persent insluit, te aanvaar. Hy sê die werkgewer het egter in die finale dokumentasie nie-finansiële voordele ingesluit waaroor nie onderhandel is nie. SACCA is die grootste vakbond by FlySafair, en 62-persent van die 800 werknemers behoort daaraan.
# Die Gautengse Onderwysdepartement het kommer uitgespreek oor berigte van ʼn persoon genaamd “Godfrey”, wat glo omkoopgeld van ouers vra in ruil vir plasings by staatskole in die 2026 akademiese jaar. Die aansoekperiode vir plasings het op 16 Oktober begin toe die departement begin het om in ʼn geleidelike proses aanbiedinge aan ouers en voogde te stuur. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê ouers moet niemand betaal wat beweer hulle kan ʼn plasing by ʼn skool verseker nie:
# Minstens drie bemanningslede is dood nadat ʼn UPS-vragvliegtuig wat vliegtuie vervoer, kort na opstyging naby die Louisville internasionale lughawe in Kentucky neergestort het. Elf mense is beseer. Amptenare sê die vliegtuig wat op pad was na Hawaii, het in ʼn gebied geval waar onder meer ʼn petroleum-herwinning-onderneming is. Dit het die gevolge vererger. Kentucky se goewerneur, Andy Beshear, beskryf die voorval as rampspoedig en sê die sterftesyfer kan toeneem terwyl noodspanne deur die puin sif.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, is ná haar tweede oorwinning in die WTA-jaareindronde in Riaad gereed om haar plek in die halfeindronde te spreek. Sy het die Amerikaner, Jessica Pegula, verslaan maar moet in skoon stelle wen om vordering van die Stefanie Graf-groep te bevestig. Die verdedigende kampioen, Coco Gauff van Amerika, hoop om die uitklopronde te haal na haar sege oor die Italianer, Jasmine Paolini, wat uitgeskakel is. Sabalenka sê sy is vol vertroue dat sy die halfeindronde sal haal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-50 sent teen die dollar, 20-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-76 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-19 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-953 dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-9-sent per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….