Nuus 18:00
BULLETIN 4 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Polly Boshielo is teleurgesteld oor die ontbinding van taakspan vir politieke moorde
# ‘n Verdagte is in hegtenis geneem vir die Reigerpark-verbyryskietery
# En, ‘n hersiene e-stembeleid gaan binnekort by die Parlement ingedien word
# Die adjunkminister van Polisie, Polly Boshielo het teleurstelling uitgespreek oor die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde en sê die besluit is nie genoegsaam gekonsulteer of gekoördineer nie. Sy het tydens die parlementêre ad hoc-komitee se sitting oor infiltrasie in die strafregstelsel gesê sy glo adjunkministers moes betrokke gewees het. Sy sê sy het die werksverhouding met die taakspan as doeltreffend en samewerkend beskou, en was verbaas oor die skielike ontbinding van die eenheid:
# Gauteng-polisie het ‘n 23-jarige man in hegtenis geneem wat daarvan verdink word dat hy betrokke was by Saterdag se verbyry-skietery in Reigerpark, in Boksburg. Waarnemende provinsiale polisiekommissaris Fred Kekana het die anti-bende-eenheid vir hul werk geprys. Polisiewoordvoerder Dimakatso Nevhuhulwi sê die verdagte sal môre in die Boksburg-landdroshof verskyn:
# Die Verkiesingskommissie sê die hersiene beleidsdokument oor elektroniese stemming gaan binnekort by die Parlement ingedien word na landwye raadpleging. Dit stel ‘n versigtige, gefaseerde benadering voor, insluitend ‘n hibriede stelsel wat papier-stembriewe kombineer met digitale stemming in stemlokale. Die Adjunk-hoofkiesbeampte Masego Sheburi het aan die media gesê die stelsel sal nog nie in volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing gebruik word nie:
# Gholf: Suid-Afrika se nuutste lid van die PGA-toer, Christo Lamprecht, het sy plek in vanjaar se Mauritius Ope bevestig, met die hoop om te verbeter op verlede jaar se tweede plek. Die 24-jarige sal vanaf 18 Desember op die skouspelagtige La Réserve-linksbaan op Heritage Resorts meeding nadat hy pas sy speelvoorregte vir die nuwe PGA-toerseisoen verseker het. Lamprecht het verlede jaar ‘n skouspelagtige buiging gemaak in die toernooi toe hy gesamentlik tweede geëindig het, twee houe agter die kampioen, John Parry van Engeland.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-48-sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-679-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-969-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-1-sent per vat.
# En laastens, die voormalige Engelse sokkerkaptein en sterspeler van Manchester United, David Beckham, is nou vereer vir sy dienste aan sport en liefdadigheid toe koning Charles hom tydens ‘n inhuldigingseremonie in Windsor-kasteel tot ridder geslaan het. Sir David het in noordoos-Londen grootgeword, 115 wedstryde vir Engeland gespeel, waarvan 59 as kaptein, en 17 doele vir sy land aangeteken. Hy het in drie Wêreldbekers gespeel – in 1998, 2002 en 2006 – gespeel, en in 2000 en 2004 in Europese Kampioenskappe gespeel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….