Nuus 17:00
BULLETIN 4 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die onderwys-aktivis, Hendrick Makaneta, loof die hofbeslissing teen Operation Dudula
# ‘n Verdagte is in hegtenis geneem vir die Reigerpark-verbyryskietery
# En, BOSA en die National Coloured Congress word aangepraat oor laat indienings
# Die onderwys-aktivis Hendrick Makaneta verwelkom die Hooggeregshof in Johannesburg se verbod op Operation Dudula om buitelanders te teister of hulle identiteitsdokumente onwettig te eis. Hy beskryf die uitspraak as ‘n oorwinning vir menseregte, die Grondwet en die oppergesag van die reg omdat dit weerlose gemeenskappe en leerders beskerm. Makaneta vra Suid-Afrikaners om ander se regte te respekteer en saam te werk om inklusiewe onderwys en ‘n regverdige samelewing te verseker:
# Gauteng-polisie het ‘n 23-jarige man in hegtenis geneem wat daarvan verdink word dat hy betrokke was by Saterdag se verbyry-skietery in Reigerpark, in Boksburg. Waarnemende provinsiale polisiekommissaris Fred Kekana het die anti-bende-eenheid vir hul werk geprys. Polisiewoordvoerder Dimakatso Nevhuhulwi sê die verdagte sal môre in die Boksburg-landdroshof verskyn:
# Build One South Africa en die National Coloured Congress is aangepraat omdat hulle nagelaat het om hulle geouditeerde verklarings in te dien teen die spertyd van 30 September. Die Verkiesingskommissie sê alle politieke partye is wetlik verplig om behoorlike finansiële rekords te hou. Adjunk-hoofkiesbeampte Masego Sheburi het op ‘n nuuskonferensie gesê formele opdragte is aan die twee partye uitgereik om voldoening te verseker:
# Russiese magte versterk die omsluiting van Oekraïense magte in die stad Pokrovsk. Hulle probeer al langer as ‘n jaar die vervoer- en logistieke sentrum verower. Moskou se Ministerie van Verdediging sê sy soldate het Oekraïense soldate uit 35 geboue ontruim. Russiese magte oefen ook druk uit op omsingelde Oekraïense magte naby die dorp Kupiansk in die Kharkiv-streek. Dit kan Moskou ‘n platform gee om op te ruk na die twee grootste oorblywende Oekraïens-beheerde stede in die Donetsk-streek, Kramatorsk en Sloviansk.
# Atletiek: Die Wêreld-binnenshuise Toer spog volgende jaar met ‘n rekordkalender van 77 byeenkomste in 24 lande. Die toer word op vier vlakke aangebied: Goud, wat die hoogste prysgeld aanbied, Silwer, Brons en Uitdager. Daar sal agt Goudvlak-byeenkomste wees, met die eerste een op 24 Januarie in Boston, Amerika, en die laaste een op 22 Februarie in Pole. Die atleet met die meeste punte sal ‘n loslootjie kry vir Wêreld-atletiek se binnenshuise kampioenskap in Pole.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-48-sent teen die dollar, 20-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-879-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-990-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….