Nuus 07:00
BULLETIN 29 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Uitspraak word voorbehou in die saak oor die publikasie van die matriekuitslae
# Veertien kom om in aanvalle deur die Amerikaanse weermag op vier vermeende dwelmbote in die Stille Oseaan
# En krieket: Bosch en Hendricks lei die Proteas se oorwinning teen Pakistan in die eerste T20
# Uitspraak is voorbehou in die saak oor die publikasie van matriekuitslae in koerante en op ander openbare platforms. Die Hooggeregshof in Pretoria het die afgelope twee dae argumente aangehoor van die Inligtingsreguleerder, die Departement van Basiese Onderwys en AfriForum. Die reguleerder hou vol die manier waarop matriekuitslae gepubliseer word, oortree die Wet op Beskerming van Persoonlike Inligting. AfriForum se woordvoerder, Alana Bailey, sê die gebruik van eksamennommers in plaas van leerders se name bied genoeg beskerming vir hul privaatheid:
# Die National Coloured Congress-parlementslid, Fadiel Adams, het ‘n klag van meineed ingedien teen KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi. Dit hou verband met Mkhwanazi se getuienis in die Parlement, waarin hy beweer het die gewese Polisieminister, Bheki Cele, het bankbesonderhede laat uitlek aan Vusimuzi ‘Cat’ Matlala, wat van poging tot moord beskuldig word. Hy het die bewerings later onttrek. Adams voer aan sulke verklarings kan openbare vertroue in die polisie-leierskap ondermyn. Adams ontken ook Mkhwanazi se beskuldiging dat hy inligting van Misdaadintelligensie roekeloos hanteer het. Hy sê hy is bekommerd oor Mkhwanazi se geloofwaardigheid.
# Die minister van vervoer, Barbara Creecy, het PRASA se hernubare energie-inisiatief bekendgestel en die 300ste plaaslik-geboude trein in Isipingo, KwaZulu-Natal, gevier. Creecy het aan Newzroom Afrika gesê die treine wat van Suid-Afrikaanse staal gemaak is, dui op vordering in gevorderde vervaardiging en werkskepping. Die minister het ook die nuwe Isipingo-winkelsentrum in KwaZulu-Natal geopen, wat deel is van PRASA se stedelike hernuwingsveldtog:
# Die ministerie van Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede verwelkom die arrestasie van ‘n verdagte na die moord op twee jong vroue in Mamelodi-Oos, Tshwane. Minister Sindisiwe Chikunga veroordeel die geweld en prys die polisie vir hul vinnige reaksie, en vra onmiddelike regsoptrede. Die verdagte sal na verwagting vandag in die Landdroshof in Mamelodi verskyn. Die ministerie se woordvoerder, Cassius Selala, het gemeenskappe gevra vir hul samewerking met die polisie om geweld teen vroue te stop:
# Die Amerikaanse weermag het op vier bote toegeslaan wat vermoedelik dwelms in die oostelike Stille Oseaan vervoer het. Veertien mense is dood en een het oorleef. Die minister van Verdediging, Pete Hegseth, sê intelligensie was bewus van die bote wat op bekende dwelmhandelroetes gevaar het met dwelms aan boord. Die jongste operasie bring die aantal sterftes op byna 60 te staan in meer as tien aanvalle sedert die begin van September. Die aanvalle word veroordeel in die streek en kenners bevraagteken die wettigheid daarvan.
# Krieket: Suid-Afrika het Pakistan met 55 lopies verslaan in die eerste T20 op die Rawalpindi-krieketstadion en loop 1-0 voor in die reeks. Reeza Hendricks het 60 van 40 balle bygedra en die Proteas het 194 vir nege in hul 20 boulbeurte aangeteken. In antwoord daarop het Corbin Bosch die beste boul-vertoning van sy loopbaan gelewer. Hy het vier paaltjies platgetrek en is deur George Linde ondersteun wat drie laat kantel het. Pakistan was op 139 almal uit. Die orige twee T20-wedstryde vind Vrydag en Saterdag in Lahore plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 22-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-691-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-967-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….