Eko-minuut 13:30
BULLETIN 28 Oktober 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Amerika se Nasionale Orkaansentrum waarsku Orkaan Melissa wat Jamaika na verwagting vandag bereik, sal rampspoedige en lewensbedreigende wind, oorstromings en stormstuwings veroorsaak. Die kategorie vyf-storm het volgens berigte reeds drie sterftes in Jamaika veroorsaak, en vier in Haïti en die Dominikaanse Republiek. ʼn Woordvoerder van die sentrum, Michael Brennan, sê hulle verwag ernstige skade en die verwoesting van skuilings, huise en ander geboue in die middelpunt van die storm. Waarskuwings is ook uitgereik vir Kuba en die suidooste van die Bahamas.
# SA Harvest het sy kweekhuisprogram van stapel gestuur om Suid-Afrika se voedselvermorsing- en hongerte aan te pak. Die projek omskep produkte wat gered word in volhoubare landbou met die gebruik van hidroponika en gemeenskapsopleiding. Die projek, tans in Gauteng en KwaZulu-Natal, bevorder voedselonafhanklikheid, werkskepping en klimaatsoptrede terwyl dit stortingsterrein-afval verminder en langtermyn-voedselveerkragtigheid bou. Die uitvoerende hoof, Ozzy Nel, sê hongerte en voedselvermorsing is twee kante van dieselfde oplosbare probleem.
# En Suid-Afrika se hernubare energienetwerk brei vinnig uit, met meer as 220 gigawatt se son-, wind-, battery- en hibriede projekte wat ontwikkel word. Dit is volgens bevindinge van die jongste Suid-Afrikaanse Hernubare Energie-netwerkopname wat deur die Nasionale Transmissiemaatskappy van Suid-Afrika uitgevoer is. Sonkrag is die toonaangewende tegnologie wat tans ontwikkel word, en wek 121 gigawatt se krag op, gevolg deur wind. Die Transmissiemaatskappy sê die opname is ‘n belangrike instrument om te bepaal waar en hoe die netwerk moet groei om nuwe hernubare energieprojekte in te sluit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….