Goeie Nuus
BULLETIN 28 Oktober
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Universiteit Stellenbosch het ‘n lys van vanjaar se ontvangers van eredoktorsgrade bekendgemaak. Die instelling ken elke jaar eredoktorsgrade toe aan buitengewone persone wat in hul velde uitblink en ‘n nalatenskap van toewyding en visie demonstreer wat toekomstige geslagte inspireer. Vanjaar se ontvangers is die Nobelpryswenner en internasionaal-bekroonde skrywer Abdulrazak Gurnah, die rampbestuurkundige Colin Deiner, die entrepreneur Chris Otto, die sosiale wetenskaplike en epidemioloog, Olive Shisana, en die innoveerder Tjaart Johannes van der Walt.
Die ANC het president Cyril Ramaphosa intussen gelukgewens met sy eredoktorsgraad in internasionale betrekkinge van die Universiteit van Malaya in Maleisië. Die universiteit het gesê die verlening weerspieël die erkenning van Ramaphosa se leierskap, bydraes tot internasionale betrekkinge en toewyding aan globale ontwikkeling. Die ANC se woordvoerder, Mahlengi Bhengu, sê die toekenning is ook ‘n bewys van Ramaphosa se toewyding aan diplomasie, inklusiewe regering en streeksamewerking.
# Die Suid-Afrikaanse skrywer, boekmentor en professionele spreker, Kim Vermaak, is benoem vir 2026 se gesogte Vroue van Statuur-toekennings in Suid-Afrika. Die toekennings, wat die 11de keer aangebied word, vereer uitsonderlike vroue wat ‘n beduidende uitwerking op verskeie sektore het. Vermaak is erken vir haar merkwaardige bydraes tot die uitgewersbedryf en geestesgesondheid. Sy sê dat vroue nie net vir hul sukses gevier word nie, maar ook vir hul kwesbaarheid en moed om teëspoed te oorkom, en die herdefiniëring van wat krag werklik beteken.
# Die bekroonde Suid-Afrikaanse komediant, Stuart Taylor, bring volgende maand sy jongste werk, Odd Man Out, na die Baxter-teater in Kaapstad en die Theatre on the Square in Johannesburg. Sy jongste vertoning kyk na ‘n eerlike en humoristiese manier oor wat dit beteken om ʼn bietjie anders te wees en waarom dit dikwels die plek is waar die komedie is. Taylor sê die vertoning som sy lewe perfek op omdat hy nog altyd die een was wat nie heeltemal inpas nie, soos ʼn vegetariër by ʼn braai.
# En die Universiteit van Venda het deur sy Thoho ya Nzie-veldtog ʼn ruim skenking kospakkies van die Todani 70-stigting ontvang. Die skenking se doel is om studente wat finansieel swaarkry met kos te ondersteun. Die skenking sluit mieliemeel, blikkieskos, twee koeie en vyf varke in. Pila Nemutandani van die universiteit sê voedselonsekerheid kan studente kwesbaar maak en tot skadelike gedrag lei. Sy sê ook die skenking sal ʼn blywende uitwerking hê.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….