Nuus 07:00
BULLETIN 28 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê die ANC keer terug na die leerstellings van O.R. Tambo as deel van sy hernuwing
# Biden sê Amerikaners moet optimisties bly onder Trump se presidentskap
# En atletiek: Atletiek Suid-Afrika se president, James Moloi, gaan moontlik geskors word
# Die ANC se adjunkpresident, Paul Mashatile, sê as deel van sy hernuwingsprogram, wy die party hom opnuut toe aan die leringe van Oliver Reginald Tambo. Hy het gister by die O.R. Tambo-gedenklesing in Gauteng ‘n programrede gelewer onder die tema: Die bevestiging van ons stryd se morele kompas: eenheid, integriteit en hernuwing. Mashatile sê hulle wil die ANC herbou om weer sterk te wees:
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika se verwydering van die Finansiële Aksietaakmag se gryslys is ‘n goeie teken vir die integriteit en reputasie van die land se finansiële stelsel. In 2023 is Suid-Afrika op die gryslys geplaas omdat hy nie aan sekere internasionale standaarde voldoen het nie. In sy weeklikse nuusbrief sê Ramaphosa die land se verwydering van die gryslys toon dat die teen-geldwasserystelsel sukses behaal teen korrupsie en ander finansiële misdade. Hy sê daar is nog baie werk wat gedoen moet word om finansiële misdaad te verminder en te voorkom.
# SA Harvest het sy kweekhuisprogram van stapel gestuur om Suid-Afrika se voedselvermorsing- en hongerte aan te pak. Die projek omskep produkte wat gered word in volhoubare landbou met die gebruik van hidroponika en gemeenskapsopleiding. Die projek, tans in Gauteng en KwaZulu-Natal, bevorder voedselonafhanklikheid, werkskepping en klimaataksie terwyl dit stortingsterrein-afval verminder en langtermyn-voedselveerkragtigheid bou. Die uitvoerende hoof Ozzy Nel sê hongerte en voedselvermorsing is twee kante van dieselfde oplosbare probleem.
# Die DA sê die parlementêre portefeuljekomitee vir Hoër Onderwys en Opleiding moet dringend ondersoek instel na toenemende korrupsie en bestuursmislukking by die Walter Sisulu-universiteit. Ka-myaluza Security se uitvoerende hoof, Sibusiso Ngubane, het voor die Jafta-ondersoekkommissie getuig en bewerings van ernstige korrupsie, afpersing en onreëlmatighede met indiensneming teen minstens ses senior universiteitsamptenare gemaak. Delmaine Christians van die DA sê dit was alles in ruil vir lonende veiligheidskontrakte:
# Oudpresident Joe Biden van Amerika het sy landgenote aangemoedig om optimisties te bly oor wat hy die donker dae onder Donald Trump se streng presidentskap noem. Die 82-jarige Biden het in Boston gepraat nadat hy die Lewensprestasietoekenning van die Edward M. Kennedy-instituut ontvang het. Hy het die eerste keer in die openbaar gepraat sedert hy bestraling ontvang het vir ʼn aggressiewe vorm van prostaatkanker. Biden sê Amerika het ʼn presidensie met beperkte mag, ʼn funksionerende kongres en ʼn onafhanklike regbank:
# Atletiek: Atletiek Suid-Afrika se president, James Moloi, het ʼn skorsing-kennisgewing ontvang. Dit volg na ʼn verslag van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee oor Moloi se gebruik van sy ASA-kredietkaart, veral wat ʼn klomp twyfelagtige kostes soos uitgawes by kroeë betref. Moloi het tot Vrydag tyd om redes te verskaf waarom hy nie geskors moet word nie. Atletiek Suid-Afrika sê ʼn tugkomitee sal bepaal of daar opgetree moet word teen enige ander beampte, insluitend die waarnemende hoof en finansiële bestuurder.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-22-sent teen die dollar, 20-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-448-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-12-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….