Eko-minuut 13:30
BULLETIN 27 Oktober 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika en Maleisië moet saamstaan in die stryd teen klimaatsverandering deur die uitwerking te bekamp en ‘n billike en inklusiewe oorgang na laekoolstof-ekonomieë na te streef. Hy het vandag ʼn openbare lesing by die Universiteit van Malaya gelewer. Maleisië wil sy kweekhuisgas-vrystelling se intensiteit van die bruto binnelandse produk teen 2030 met 45-persent verminder. Ramaphosa sê een van Suid-Afrika se voorkeure tydens sy G20-presidentskap is om rampweerstand en -reaksie te versterk:
Die Presidensiële Klimaatkommissie sê intussen terwyl Suid-Afrikaanse klimaatfinansieringsvloei ‘n positiewe opwaartse neiging toon, moet beleggings ten minste twee- tot drievoudig toeneem om aan beleggingsbehoeftes te voldoen. Binnelandse bronne dra byna 60-persent van die algehele klimaatfinansiering by, terwyl internasionale klimaatfinansieringsbronne die ander 40-persent bydra. Die kommissie sê energie oorheers klimaatbeleggings, met ‘n jaarlikse gemiddelde van 139,5-miljard-rand, hoofsaaklik in hernubare energie-elektrisiteitsopwekking, en 89-persent van versagtingsfinansiering. Hy voeg by dat die verskaffing van duidelike en bestendige beleidsriglyne vir klimaatbeleggings nodig is.
# En die Europese Parlement het sy voorkeure aanvaar vir die Verenigde Nasies se Klimaatsveranderingskonferensie in Brasilië volgende maand. COP30 sal fokus op pogings wat nodig is om aardverwarming tot 1,5 grade Celsius te beperk, en vordering met die finansieringsbeloftes wat op COP29 gemaak is. ‘n Lid van die Europese Parlement, Lídia Pereira, sê hulle wil hê dat lande hul billike deel moet bydra tot die verskaffing van voldoende klimaatsfinansiering:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….