Nuus 09:00
BULLETIN 27 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n SAPD forensiese ballistiese kenner gaan voor die Madlanga-kommissie getuig
# Die DA sê minister Kubayi sal rekenskap gee oor die verslegtende lot van landdroste
# En president Ramaphosa ontvang ‘n eredoktorsgraad aan die Universiteit van Malaya
# Die Madlanga-kommissie sal vandag getuienis van ‘n forensiese ballistiese kenner van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Pretoria aanhoor. Die kommissie ondersoek bewerings van kriminaliteit, politieke inmenging en korrupsie binne die strafregstelsel. Die forensiese ballistiese kenner sal na verwagting bewyse lewer wat verband hou met die moord op die Vereeniging-ingenieur Armand Swart, wat vermoedelik ‘n geval van verkeerde identiteit is. Verlede week het die kommissie getuienisse van drie geheime getuies aangehoor, wat die inmenging van sommige senior SAPD-amptenare in Swart se saak blootgelê en adjunk-regterpresident Aubrey Ledwaba betrek het.
# Die ANC sê hy verwelkom Afrikaans-sprekende Suid-Afrikaners se standpunt. Byna 50 Afrikaner-akademici, -kerkleiers en ander -beroepspersone het saam ‘n brief geskryf en geteken met die titel: Not in our Name: Afrikaners Respond to the Misuse of Their Story in US Politics. In die brief verwerp hulle die Amerikaanse siening wat Afrikaners as slagoffers van rassevervolging in post-apartheid Suid-Afrika uitbeeld. Die ANC-woordvoerder Mahlengi Bhengu sê hulle waardeer die groep se verwerping van pogings om die land se geskiedenis te verdraai en tot voordeel van sogenaamde verregse agendas in die buiteland te gebruik.
# Die DA verwelkom die bevestiging dat die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, Woensdag voor die Nasionale Raad van Provinsies se gekose komitee oor Veiligheid en Justisie sal verskyn. Sy sal na verwagting die verslegtende lot van landdroste in die land aanspreek. Mzamo Billy van die DA sê die minister moet rekenskap gee van die departement se versuim om swak salarisse, onveilige werksomstandighede en lae moraal onder landdroste aan te spreek:
# Sokker: Arsenal het hul voorsprong op die Premierliga-punteleer vergroot ná ʼn 1-0-sege oor Crystal Palace op die Emirates-stadion. Die voormalige Palace-speler, Eberechi Eze, het die enigste doel van die wedstryd aangeteken en die Gunners hul sewende agtereenvolgende oorwinning in alle kompetisies besorg. Arsenal loop nou met vier punte voor op die punteleer en is sewe punte voor die kampioene, Liverpool. Bestuurder Mikel Arteta sê dit was ʼn belangrike oorwinning:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-21-sent teen die dollar, 20-rand-1-sent teen die euro en 22-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-248-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-63-dollar per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-28-sent per vat.
# En ten slotte: Die Universiteit van Malaya in Maleisië het ‘n eredoktorsgraad in Internasionale Betrekkinge aan president Cyril Ramaphosa toegeken. Dit is uit erkenning van sy uitstaande leierskap, bydraes tot internasionale betrekkinge en toewyding aan globale ontwikkeling. Hy is slegs die tweede Suid-Afrikaner, na die oorlede voormalige president Nelson Mandela, wat die onderskeiding ontvang het. Ramaphosa sê die eerbewys gee erkenning aan die stryd van die Suid-Afrikaanse nasie vir demokrasie en vryheid:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….