Eko-minuut 13:30
BULLETIN 22 Oktober 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Grootvadersbosch-bewaringsgebied naby Heidelberg in die Wes-Kaap het op die 2025 Reverse the Red Accelerator-toekennings in Abu Dhabi in die Verenigde Arabiese Emirate, internasionale erkenning gekry vir hul pogings om die bedreigde Tradouw-rooivlerkie te red. Die klein varswatervissie, wat slegs in die Huisrivier voorkom, word bedreig deur indringerspesies en droogte. Die bewaringsprojek het rivieroewers herstel, plaaslike werksgeleenthede geskep en gemeenskapsbewustheid verhoog. Die toekenning bied befondsing en wêreldwye ondersteuning vir verdere bewaring, insluitend planne om veilige nuwe omgewings vir die Tradouw-rooivlerkie te vestig.
# Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings het ‘n hernude fokus op menslike oplossings vir die olifantbevolkingskrisis in Noordwes verwelkom. Dit volg op ‘n ondersoek na die vrektes van 75 olifante weens hongersnood tussen Augustus verlede jaar en Januarie vanjaar in die Madikwe- en die Pilanesberg-wildreservaat tydens erge droogtetoestande. Lede van die Parlement se portefeuljekomitee oor Bosbou, Visserye en die Omgewing het onlangs die reservate besoek. Die DBV het ook sy teenkanting teen trofeejag as ‘n metode vir die beheer van olifantbevolkings herbevestig.
# En ten slotte: Ontbossing het die afgelope dekade wêreldwyd in elke streek afgeneem. Dit is volgens nuwe data van die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie. Die data toon die wêreld het die afgelope dekade elke jaar sowat 10,9-miljoen hektaar woude verloor. Woude bedek steeds sowat 4,14-miljard hektaar of ongeveer ‘n derde van die wêreld se totale grondoppervlak. Anssi Pekkarinen van die organisasie sê woude is belangrik vir voedselsekerheid en voortbestaan:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….