Nuus 14:00
BULLETIN 16 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet is teleurgesteld oor emmersvol teen-Vigsmiddels op die toneel van die busongeluk in Limpopo
# Die Madlanga-kommissie en die media bereik ‘n ooreenkoms om die verrigtinge agter geslote deure te hou
# En die Hooggeregshof in Pretoria verwerp die ontbinde SA Toerismeraad se saak teen minister De Lille
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die kabinet het sy teleurstelling uitgespreek oor emmersvol teen-Vigsmiddels en ander voorskrifmedisyne wat op die toneel van dié week se busongeluk in Limpopo ontdek is. Twee-en-veertig mense het in die ramp gesterf. Ntshavheni sê daar was geen dokumentasie vir mediese vrag van Suid-Afrika na Malawi en Zimbabwe nie. Sy sê ‘n volskaalse ondersoek is van stapel gestuur, en wetstoepassingsagentskappe hanteer die ongeluk ook as ‘n moontlike geval van farmaseutiese smokkelary:
# Die Madlanga-kommissie in Pretoria het ‘n ooreenkoms met die mediamaatskappye News24 en Daily Maverick bereik om Getuie X se getuienis vandag en môre in camera te hou. Die twee publikasies het sedertdien hul teenkanting teen die geslote verrigtinge teruggetrek, en die kommissie sal nou agter geslote deure voortgaan. Die hoofgetuienisleier, Matthew Chaskalson, sê die besluit volg op kommer oor die sensitiwiteit van die getuienis en die uitwerking wat dit op onafgehandelde ondersoeke kan hê:
# Die Hooggeregshof in Pretoria het ‘n dringende aansoek van die gewese Suid-Afrikaanse Toerismeraad van die hand gewys teen die minister van Toerisme, Patricia de Lille, se besluit in Augustus om dit te ontbind. Die gewese raadslede het haar daarvan beskuldig dat sy redes versin het om die raad te ontbind. De Lille het haar optrede as noodsaaklik vir hervorming verdedig. Sy het na die uitspraak bevestig dat daar reeds begin is om nuwe raadslede aan te stel.
# Rugby: Die Engelse losskakel George Ford het onthul dat hy ‘n aanloklike aanbod van die nuwe wegbreekkompetisie, R360, van die hand gewys het om steeds vir sy land te kan speel. Hy het sy kontrak met Sale Sharks met nog drie jaar verleng. Engeland se rugby-unie het vroeër gewaarsku dat spelers wat by R360 aansluit, nie vir die toetsspan geskies sal word nie. Die 32-jarige veteraan van 102 toetse sê hy het steeds ‘n passie om vir sy land te speel, en het nog baie om te bied.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-450-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-237-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-3-sent per vat.
# En laastens, talle Suid-Afrikaanse kunstenaars word oorweeg vir vanjaar se Grammy-benoemings. Dit sluit Sjava, Oscar Mbo, Cici, Abavuki en Heavy in. Die voorloper is Sjava wat oorweeg word vir beste wêreldwye musiekalbum vir Inkanyezi Live. Die bekroonde sangeres en liedjieskrywer, Cici, word oorweeg in die kategorie vir beste Afrika-musiekprestasie vir haar enkelsnit, Thula. Deep house-maestro Oscar Mbo kan moontlik benoem word in die kategorie vir beste dans/elektroniese album. Die Grammy-benoemings word op 7 November aangekondig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….