Goeie Nuus
BULLETIN 16 Oktober
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Talle Suid-Afrikaanse kunstenaars word oorweeg vir 2025 se Grammy-benoemings. Dit sluit Sjava, Oscar Mbo, Cici, Abavuki en Heavy in. Die voorloper is Sjava wat oorweeg word vir beste wêreldwye musiekalbum vir Inkanyezi Live. Die bekroonde sangeres en liedjieskrywer, Cici, word oorweeg in die kategorie vir beste Afrika-musiekprestasie vir haar enkelsnit, Thula. Deep house-maestro Oscar Mbo kan moontlik benoem word in die kategorie vir beste dans/elektroniese album. Die Grammy-benoemings word op 7 November aangekondig.
# Die internasionaal-bekroonde toneelstuk, Far Gone, gaan in Suid-Afrika opgevoer word. Dit is geskryf en opgevoer deur die Ugandees-gebore akteur en skrywer, John Rwothomack, en vertel die storie van ‘n jong seun se reis van ʼn onskuldige kind tot ʼn kindersoldaat wat onder dwang in Noord-Uganda veg. Die opvoering het wêreldwyd lof verdien, onder meer op die Tua-Tiu-Tiann-internasionale kunsfees in Taiwan. Far Gone is volgende maand in die Baxter-teater in Kaapstad en in die Johannesburgse Teater te sien.
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê Suid-Afrika sal oor ʼn tydperk van ses maande twee-miljard-rand van die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer en -voorkoming ontvang om bestaande MIV- en Vigsprogramme in die land aan die gang te hou. Besnoeiings in Februarie aan Amerika se presidensiële noodplan vir Vigsverligting het ʼn reuse-finansiële tekort veroorsaak in Suid-Afrika se MIV-programme. Motsoaledi sê Amerika het besluit om die besnoeiings te heroorweeg deur ʼn nuwe meganisme in te stel. Dit word ʼn oorgangstydperk genoem wat een tot vyf jaar kan duur.
# Die Universiteit Stellenbosch het die Afrika-sentrum vir Terapeutiese Vernuwing bekendgestel om die ontdekking van geneesmiddels en terapeutiese vernuwing vir Afrika se unieke gesondheidsprobleme te bevorder. Die sentrum bring bydraes byeen uit die gebiede van chemie, biologie en farmakologie om die universiteit se posisie in vernuwende gesondheidsorg te versterk. Die sentrum se mededirekteur, Lyn-Marié Birkholtz, sê hulle is tans deel van verskeie netwerke wat die ontdekking van geneesmiddels in Afrika ondersteun:
# En ten slotte: Een van die wêreld se langste pare dinosourus-voetspore is in ‘n steengroef in Oxfordshire in die Verenigde Koninkryk ontdek. Paleontoloë het die voetspore gekoppel aan die Cetiosaurus-dinosourus wat tot 18 meter lank kon word. Die Dewars Farm-steengroef word al lank met dinosourusse verbind. Sommige spore is in die 1990s daar ontdek, en verlede jaar het navorsers 200 enorme voetspore gevind wat die steengroefvloer deurkruis. Vanjaar het die span egter nog meer spore in ‘n ander deel van die steengroef oopgegrawe.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….