Nuus 18:00
BULLETIN 15 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die uitspraak in die Albert Luthuli-ondersoek sal op 30 Oktober gelewer word
# Sokker: Jordaan sê dis ‘n uitdaging om te beplan vir Broos se opvolger
# En Suid-Afrika is onder die voorste vyf luukse bestemmings vanjaar
# Die Hooggeregshof in Pietermaritzburg sal op 30 Oktober uitspraak lewer in die heropende geregtelike ondersoek na die dood van die voormalige president van die ANC, hoofman Albert Luthuli, in 1967. Die staat het in sy slotbetoog teenstrydighede in die oorspronklike ondersoek uitgelig en die hof gevra om te beslis dat Luthuli vermoor is. Natasha Ramkisson-Kara van die Nasionale Vervolgingsgesag sê aanklaers het ook ‘n ondersoek aangevra na die verdwyning van ooggetuie Mbhemu Mnyandu, wat vermoedelik met die saak verbind word:
# ‘n Advokaat wat van die rol geskrap is, Malesela Teffo, het aangedui hy wil as vriend van die hof aansluit by die borgtoghersiening teen die hoof van die polisie se Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, en twee medebeskuldigdes. Teffo beweer die beskuldigdes is gevaarlik en betrokke by sy tronkstraf. Khumalo en sy medebeskuldigdes versoek versagtende borgtogvoorwaardes om terug te keer werk toe. Die hof het beslis hy moet formeel aansoek doen en die saak uitgestel tot 6 November.
# AfriForum het die minister van Vervoer, Barbara Creecy, daarvan beskuldig dat sy die publiek mislei het nadat sy bevestig het dat betaling vir tydelike rybewyse steeds van toepassing is ondanks haar belofte om dit af te skaf. Die Padverkeersbestuurskorporasie het bevestig dat die fooi van 72-rand steeds van krag is, wat teenstrydig is met Creecy se parlementêre uitlatings. Louis Boshoff van AfriForum sê die vertraging kom neer op oneerlikheid en hulle oorweeg regstappe om die besluit af te dwing:
# Sokker: Die president van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging, Danny Jordaan, sê dis ‘n uitdaging om ‘n opvolger te vind vir Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, wat ná volgende jaar se Wêreldbekertoernooi gaan uittree. Jordaan het gepraat na Bafana se oorwinning van 3-0 oor Rwanda waarmee hy vir die toernooi gekwalifiseer het. Hy het Broos geprys as die dryfkrag agter die span en sê hoewel hulle sy besluit respekteer, sal SAFA dadelik begin beplan vir ‘n gladde oorgang en toekomstige ontwikkeling:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33-sent teen die dollar, 20-rand-14-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-en- 35-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-205-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-24-sent per vat.
# En laastens: Suid-Afrika is in die eerste Roxstar-luuksereise-verslag aangewys as een van die wêreld se topvyf luukse reisbestemmings in 2025. Amerika is boaan die lys, gevolg deur die Verenigde Arabiese Emirate, die Maledive-eilande, Suid-Afrika en Frankryk. Roxstar se stigter, Roxy Robinson, sê Kaapstad kombineer stedelike kultuur met van die wêreld se mooiste natuurtonele terwyl safari-vakansies in die noorde algehele ontsnapping bied. Sy sê min bestemmings bied so ‘n aanloklike verskeidenheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….