Goeie Nuus
BULLETIN 15 Oktober 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaner Wim van den Heever is aangekondig as 2025 se Natuurlewefotograaf van die Jaar vir sy foto getiteld Spookdorpbesoeker. Die foto is van ‘n bruin hiëna wat langs die ruïnes van ‘n verlate diamantmynbou-nedersetting in die spookdorp Kolmanskop in Namibië staan. Die foto is gekies uit ‘n rekord van 60-duisend-636 inskrywings uit 113 lande en gebiede. Van Heever sê dit het hom tien jaar geneem om die enkele foto te kry:
# Die Wes-Kaapse Blombos-argeologiemuseum in Stilbaai is aangewys as die beste vernuwende projek in die veld van museums, erfenis en plekname. Die projek van die Universiteit van die Witwatersrand en SapienCE Blombos-argeologiemuseum het onlangs erkenning gekry van die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport. Die uitstalling nooi besoekers om die buitengewone reis van vroeë voorsate te ontdek en kennis te neem van die merkwaardige ontdekkings wat begrip van die mens se voorgeskiedenis vorm. Die uitstalling is deel van Wits se uitreik- en opvoedingsprogramme.
# Suid-Afrika is in die eerste Roxstar-luuksereise-verslag aangewys as een van die wêreld se topvyf luukse reisbestemmings in 2025. Amerika is boaan die lys, gevolg deur die Verenigde Arabiese Emirate, die Maledive-eilande, Suid-Afrika en Frankryk. Roxstar se stigter, Roxy Robinson, sê Kaapstad kombineer stedelike kultuur met van die wêreld se mooiste natuurtonele terwyl safari-vakansies in die noorde algehele ontsnapping bied. Sy sê min bestemmings bied so ‘n aanloklike verskeidenheid.
Kaapstad is intussen amptelik die wêreld se derde gelukkigste stad. TimeOut se geluksaanwyser is deel van die tydskrif se jaarlikse internasionale peiling om die wêreld se gelukkigste stad te bepaal. Dit word gegrond op faktore soos kultuur, naglewe, kos, staproetes, lewensgehalte en geluk. Die hoofstad van die Verenigde Arabiese Emirate, Abu Dhabi, is vanjaar se wenner, gevolg deur Medellin in Colombië. Mexikostad is vierde en Mumbai in Indië vyfde.
# En die Nasionale Sake-inisiatief het die installasie-, herstel- en onderhoudsveldtog van stapel gestuur. Dit is ‘n landwye veldtog wat die jeug van dorpe, kollege-studente en klein ondernemings met groen ekonomie-geleenthede verbind. Dit stel verskillende soorte digitale gereedskap bekend, insluitend die Groen Ekonomie-gereedskapskis, die Installasie-, Herstel- en Onderhoud-kernportaal, en die leer-toepassing, om opleiding, ondernemingsgroei en sertifisering te ondersteun. Die doel van die veldtog is om gedurende die volgende twee maande 100-duisend-jongmense en klein, medium en mikro-ondernemings oor verskeie streke te registreer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….