Nuus 14:00
BULLETIN 15 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrikaanse tegnologie word in Russiese hommeltuie gevind
# Umalusi sê hy is gereed vir die nasionale matriekeksamen
# En sokker: Broos gaan Bafana verlaat na die Wêreldbekertoernooi
# Die DA sê hy het met groot kommer kennis geneem van Bloomberg se berigte dat laserafstandsmetingstoerusting wat deur die Suid-Afrikaanse firma LightWare Opto-electronics vervaardig is, van Russiese aanvalshommeltuie herwin is wat in die oorlog teen Oekraïne gebruik word. Chris Hattingh van die DA sê die party wil hê die Nasionale Konvensionele Wapenbeheerkomitee se bevindinge in die LightWare-saak moet gepubliseer word in ‘n dokument wat geskik is vir openbare en parlementêre ondersoek:
Senior Oekraïense amptenare het intussen in Amerika vergader met verteenwoordigers van Amerikaanse wapenvervaardigers, insluitend Raytheon, wat Tomahawk-missiele vervaardig wat Washington dalk aan Kiëf gaan verskaf. Die Oekraïense afvaardiging se tweedaagse besoek het gesprekke met senior Amerikaanse amptenare ingesluit en kom voor Vrydag se beplande vergadering tussen die Amerikaanse president, Donald Trump, en sy Oekraïense ampsgenoot, Volodimir Zelensky. Trump oorweeg dit om die missiele na Oekraïne te stuur.
# Die raad vir gehaltebeheer in onderwys, Umalusi, sê hy is gereed vir vanjaar se nasionale matriekeksamen in openbare sowel as privaat beoordelingsliggame. Die raad het bevestig stelsels is gereed om geloofwaardige, regverdige en voldoenende eksamen-administrasie te verseker. Aanlyn skole is nog nie geakkrediteer nie weens die afwesigheid van ‘n regulatoriese raamwerk. Umalusi se uitvoerende hoof, Mafu Rakometsi, sê moniteringsmaatreëls wat vanjaar ingestel is, toon reeds positiewe uitslae:
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, beplan om uit te tree na volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Amerika, Mexiko en Kanada. Suid-Afrika het Rwanda gisteraand 3-0 verslaan om boaan Groep C te eindig en die eerste keer sedert 2002 vir die globale vertoonstuk te kwalifiseer. Hulle het wel in 2010 as gasheer-nasie deelgeneem. Die 73-jarige Belg sê om sy loopbaan op die toernooi af te sluit voel soos die perfekte einde van sy dekade-lange reis in die sport:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-13-sent teen die euro en 23-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-578-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-202-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-16-sent per vat.
# En laastens: Die voormalige eerste minister van Kenia, Raila Odinga, het gesterf terwyl hy behandeling ontvang het in Kochi, Indië. Die 80-jarige se hart het glo gaan staan terwyl hy gestap het en is in die hospitaal dood verklaar. Odinga het vyf presidentsverkiesings betwis en verloor as Kenia se langsdienende opposisiefiguur. Hy het bygedra tot veelparty-demokrasie en om ‘n nuwe grondwet in 2010 in te stel. Odinga het jare in die tronk en in ballingskap deurgebring onder wyle president Daniel arap Moi se outokratiese bewind.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….